|

Departement van Basiese Onderwys mislei oor BELA, sê AfriForum

AfriForum het in reaksie op ’n mediaverklaring van die Departement van Basiese Onderwys wat gister (11 Maart 2024) uitgereik is, verklaar dat die departement nie die publiek se intelligensie moet onderskat of hulle verder moet probeer mislei nie.

In die verklaring beweer die departement dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) geen agenda teen ’n spesifieke taal het nie, maar juis moedertaalonderrig en beter skolebestuur sal bevorder. Verder word aangevoer dat diegene wat dit verwerp teen diversiteit in skole gekant is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het verskeie ANC-lede op provinsiale en nasionale owerheidsvlakke al telkemale uitdruklik gesê dat die bestaan van enkelmedium Afrikaanse skole onaanvaarbaar is. “Openbare skole getuig deurentyd van departementele druk om te verengels, al is dit herhaaldelik bewys dat dubbel- of parallelmedium onderwysinstellings in die land uiteindelik eentalige Engelse instellings word. Om nou skielik weer die eksklusiwiteitskaart te speel, is belaglik. Afrikaans is die een taal wat nie oorwegend net deur een gemeenskap gepraat word nie. Hoewel Afrikaanse skole van die mees getransformeerde skole in die land is, is dit ook die skole wat die meeste onder vals beskuldigings van uitsluiting deurloop,” voeg sy by.

Bailey is van mening dat die departement waarskynlik geskok is deur die groot aantal individue en instellings wat standpunt teen die BELA-wetsontwerp indien en in hulle voorleggings die departement se mislukkings op vele terreine uitwys. “Herhaaldelik word die gebrek aan infrastruktuur, die swak voorsiening van leermateriaal, die gebrek aan reaksie op kommunikasie van skole en beheerliggame, asook ander voorbeelde van wanadministrasie deur die nasionale en provinsiale strukture van die departement genoem. Die politici wat die wetsontwerp ten alle koste probeer stoomroller, probeer nou diegene met sterk standpunte oor gehalte moedertaalonderrig tot sondebokke maak en hulleself as die redders voordoen, terwyl hulle die vernaamste rede vir die land se sowat 80% wanfunksionele skole is. Wetgewing is nie by magte om die departement reg te ruk nie, en die publiek is nie liggelowig genoeg om hulle aan die mediaverklaring van die departement te steun nie,” sluit Bailey af. AfriForum lig die publiek oor die besware teen die wetsontwerp by www.stopbela.co.za in en gaan voort met voorbereiding vir regsaksie daarteen indien dit in die huidige vorm aanvaar word.

Soortgelyke plasings