|

Drakoniese waterregulasies eintlik slinkse onteieningsplan

Die voorgestelde nuwe waterregulasies rakende watergebruik vir ontspanningsdoeleindes en gepaardgaande waterhulpbronbestuursplanne wat onlangs deur die Departement van Water en Sanitasie (DWS) voorgelê is vir openbare kommentaar, is ’n slinkse plan om die onteiening van waterregte te bewerkstellig, het AfriForum vandag gesê. Dié burgerregteorganisasie gaan in sy voorlegging sterk kapsie maak teen die voorgestelde regulasies aangesien dit nie net ontspanningswatergebruikers se gevestigde regte vertrap nie, maar ook neerkom op ’n growwe oorskryding van regeringsmag.

Die voorgestelde maatreëls bedreig die bestaande regte van grondeienaars, ondernemings, sportklubs en toerisme-operateurs wat tans wettige toegang geniet tot damme oor die hele Suid-Afrika heen, soos die Vaaldam, wat deur die DWS besit en bestuur word.

AfriForum se kernbekommernisse ten opsigte van dié regulasies vir ontspanningswatergebruik sluit in:

  1. Erodering van publieke regte: Die voorgestelde regulasies ondermyn die publiek se bestaande reg (soos verskans in die Nasionale Waterwet, Wet 36 van 1998) om water vir ontspanningsaktiwiteite te gebruik. Dit kom in werklikheid neer op ’n blatante onteiening van bestaande wettige regte.
  2. Eiendomsreg in gevaar: Die regulasies stel swaar vereistes aan grondeienaars wie se eiendomme aan staatswaterwerke grens, wat ook effektief neerkom op ’n onteiening van hul regte en die waarde van hul eiendom verminder.
  3. Illusie van omgewingskwessies: Die oënskynlike doel van die waterhulpbronbestuursplanne is die volhoubare omgewingsbestuur van damme, om strukture wat reeds deur die Nasionale Waterwet vir hierdie doel geskep is, soos Opvanggebiedbestuursagentskappe, te omseil.
  4. Illusie van kommersiële visserye: Die waterhulpbronbestuursplanne se voorstel vir kommersiële visserye, terwyl waterliggame met rou riool besmet is, is nie net absurd nie, maar hou aansienlike gesondheidsrisiko’s vir verbruikers in.
  5. Oormatige burokrasie: Die waterhulpbronbestuursplanne stel oormatige administratiewe prosesse in, wat grondeienaars dwing om ’n ingewikkelde web van kontrakte en operasionele planne te navigeer, wat hul vermoë om toegang tot water te verkry, ernstig belemmer.
  6. Miskenning van sportklubs: Sportklubs wat naby waterliggame gesetel is, sal ’n stortvloed van onnodige regulasies in die gesig staar wat geen invloed het op watergebaseerde ontspanningsaktiwiteite nie en die voortbestaan ​​van hierdie gekoesterde gemeenskapsinstellings sal bedreig.

“Soos ons gesien het met die omstrede konsepregulasies oor watergebruikslisensies wat vroeër vanjaar gepubliseer is, waarmee die DWS poog om rassekwotas vir sekere watergebruike in te stel, is hierdie regulasies insgelyks ondeurdag, ultra vires en niks anders as ’n gevaarlike ideologiese en polities gemotiveerde toertjie om die regering se verbintenis tot radikale transformasie ten toon te stel nie. Intussen probeer hulle naarstigtelik om hiermee die aandag van hul mislukkings af te trek,” sê Marais de Vaal, AfriForum se adviseur vir Omgewingsake.

“AfriForum staan hierdie onregverdige inbreuk op ons regte ten sterkste teen en heg waarde aan die belangrikheid daarvan om ons natuurlike hulpbronne te bewaar en terselfdertyd die verantwoordelike ontwikkeling van toerisme aan te moedig. Daarom het AfriForum reeds regsadvies ingewin en sal binnekort omvattende kommentaar oor die ontspanningswatergebruikregulasies indien,” sluit De Vaal af.

AfriForum doen ’n beroep op alle Suid-Afrikaners om hul stem teen hierdie ongeregverdigde regulasies te laat hoor. Die sluitingsdatum vir die publiek om hul kommentaar in te dien is 20 Oktober 2023.

Soortgelyke plasings