|

#OnsDorp: AfriForum se Pionier-tak help om gebarste waterpyp te herstel

AfriForum se Pionier-tak in Meyerspark, Pretoria, het op 30 September hande gevat met rolspelers in die gemeenskap om watervoorsiening te verseker nadat inwoners vir vier dae sonder water was weens ’n gebarste waterpyp in Gracelaan.

Die Pionier-tak en Uitkyk Vleis- en Supermark het die nodige materiaal bekom om die pyp te las en die kontrakteurs gekry om die herstelwerk te behartig. Dié AfriForum-tak het gereageer nadat Ben Chapman, die plaaslike raadslid, hulp versoek het sodat die waterpyp herstel kon word.

Dit volg nadat die munisipale trok met die nodige onderdele en toerusting op 29 September onderweg was om die pyp te herstel en toe in Waltloo aan die brand gesteek is. Daarna is alle munisipale werkers se fone glo afgeskakel weens intimidasie en kon die raadslid niemand in die hande kry nie. Dit sou daartoe gelei het dat inwoners vandeesweek nog sonder water sou wees.

“Plaaslike rolspelers word elke dag al hoe meer genoodsaak om hand in eie boesem te steek om gemeenskappe te help. Sonder hierdie rolspelers sal gemeenskappe eenvoudig net meer en meer agteruitgaan,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid.

Raak vandag nog by dié AfriForum-tak betrokke deur ’n e-pos na pioniers@afriforumtak.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings