|

Organisasies vra dat SAOG-tribunaal weer in werking gestel word

Organisasies het vandag ’n memorandum aan die sekretariaat van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gestuur waarin ’n beroep gedoen word om die SAOG se streekshof, die SAOG-tribunaal, weer op die been te bring. Verteenwoordigers van die Mike Campbell-stigting, die Mthwakazi Republiek Party (MRP), die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), AfriForum en die kantoor van Kgosi Mogakolodi Masibi van die Batlharo Boo Tokwana Ba Ga Masibi-kultuurgemeenskap het ook ’n afskrif van hierdie memorandum by die historiese Turnhalle-gebou, die voormalige setel van die tribunaal in Windhoek, onderteken as ’n simbool van hul beroep op die SAOG.

Die ondertekening van die memorandum was die finale stap in die tweeledige trek wat Ben Freeth (54), uitvoerende direkteur van die Mike Campbell-stigting, op 28 November 2023 by die hek van die plaas Mount Carmel, in sentraal-Zimbabwe, begin het. Hy het te perd van dié plaas ongeveer 800 km deur Zimbabwe gereis en daarna wes langs die Caprivi-strook in Namibië met ’n muil. Vandaar is hy tot in Windhoek waar die ondertekening plaasgevind het.  

Freeth en sy skoonpa, Mike Campbell, het in 2001 ’n uitsettingskennisgewing van die Zimbabwiese regering ontvang net twee jaar nadat dié regering bevestig het dat Campbell se plaas, Mount Carmel, nie vir die regering se grondhervormingsprogram bekom gaan word nie. Campbell en Freeth het dié grondonteiening sonder vergoeding-saak in die Hooggeregshof in Harare beveg, maar was onsuksesvol. Hulle het dit daarna na die SAOG-tribunaal geneem wat in 2008 in Campbell en Freeth (en ander boere wat by die regsaksie aangesluit het) se guns beslis het. Dié tribunaal het bevind die Zimbabwiese regering het die SAOG se beginsels van menseregte geskend en het beslis die boere het die reg om hul plase te besit en te bewerk.

Die Zimbabwiese regering onder leiding van voormalige pres. Robert Mugabe het dié beslissing egter geïgnoreer. Mount Carmel is beset en Campbell, Freeth, hul plaaswerkers en hul gesinne se huise is in 2009 afgebrand. Die regerings van die SAOG het daarna besluit om die werksaamhede van die tribunaal op te skort.

Daar is egter steeds ’n regsgeding aan die gang nadat die Konstitusionele Hof in Suid-Afrika in 2018 beslis het dat voormalige pres. Jacob Zuma en die Suid-Afrikaanse regering se betrokkenheid by die proses om die tribunaal se werksaamhede op te skort, ongrondwetlik, onregmatig en irrasioneel was.

Volgens Freeth was hierdie tribunaal oop vir enige SAOG-burger wat deur die regstelsel in hul land in die steek gelaat is.

Daarom is daar ook in die memorandum versoek dat die SAOG-tribunaal weer opgerig moet word om as ’n waarborg te dien vir die beskerming van menseregte, die oppergesag van die reg en veral eiendomsreg, die reg om te leef, vryheid en ongebondenheid.

Saai, ’n netwerk van familieboere wat ook die meerderheid kommersiële boere in Zimbabwe verteenwoordig, was by die ondertekening van die memorandum betrokke om druk te plaas op die herstel van die SAOG-tribunaal.

“Ons het die hulp van die internasionale gemeenskap nodig om sy deel te doen om te verseker dat vergoeding betaal word aan die wit Zimbabwiese boere wat steeds nie vergoed is vir die grond, waarvan hulle die titelaktes het en waarvan hulle met geweld afgesit is nie,” sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum, is hulle dankbaar vir die talle regs- en ander oorwinnings wat reeds gesamentlik in hierdie lang proses behaal is, en bly hulle verbind tot hierdie strewe.

“’n Herstelde SAOG-tribunaal het ’n noodsaaklike rol om te vervul om vreedsame naasbestaan en ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms vir alle kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika te verseker – veral in gevalle waar geregtigheid aan gemeenskappe en individue in hul eie lande geweier is,” sê Uys.

Soortgelyke plasings