|

Durbanville-buurtwag takel haweloosheidskrisis

AfriForum se Durbanville-buurtwag het op 19 September ’n aksie in dié voorstad aangepak om te help om nagenoeg 30 hawelose mense in Durbanville te identifiseer en te help om alternatiewe heenkome te vind. Dié projek is in samewerking met Stad Kaapstad se Departement van Maatskaplike Ontwikkeling en die niewinsgewende organisasie MES aangepak.

Die aksie was toegespits op die groot aantal hawelose mense wat oorkant die Durbanville-polisiestasie sowel as in die Durbanville-sakesentrum op sypaadjies en in parke slaap. Die doel was om eerstens die individue te identifiseer en dan deur middel van Stad Kaapstad en MES se maatskaplike dienste te help om ander heenkome te vind of om hulle te help om na hul families terug te keer.

AfriForum se Durbanville-buurtwag en die sekuriteitsmaatskappy Civil Defence Force (CDF) het beskerming tydens dié aksie gebied. 

Volgens Richard Downing, ’n lid van AfriForum se Durbanville-buurtwag, is haweloosheid ’n reuseprobleem in Kaapstad. “Daar is na raming tussen 14 000 en 16 000 hawelose mense in Kaapstad. Intussen het die AfriForum-buurtwag opgemerk dat daar in die afgelope tyd ook ’n toename in die aantal hawelose mense in Durbanville spesifiek is. Dié mense is dikwels afkomstig van ander dorpe of selfs ander provinsies en land dan sonder enige heenkome in Kaapstad,” verduidelik Downing.

Intussen het AfriForum se Durbanville-buurtwag die afgelope paar weke ook verskeie vermeende misdadigers aangekeer en sodoende ’n daadwerklike bydrae tot die veiligheid van dié Kaapse voorstad gemaak.

“Durbanville se veiligheid is vir ons prioriteit,” sê Leendert Stoop, voorsitter van AfriForum se Durbanville-tak en -buurtwag. “Dit is ’n voorreg om deel te wees van AfriForum se buurtwag omdat AfriForum reeds ’n goed gevestigde en georganiseerde netwerk van meer as 160 buurtwagstrukture landwyd het. Dit is onbetwisbaar dat AfriForum oor kundiges in veiligheid beskik en ’n sterk regspan het wat hul buurtwagte ondersteun en adviseer. Die Durbanville-buurtwag is goed toegerus, het onlangs verdere opleiding ondergaan en beskik oor ’n dinamiese en goed opgeleide leierstruktuur. Voorts slaag hierdie tak daarin om deur middel van gestruktureerde patrollies die veiligheidsituasie in die woongebied sowel as die sakesentrum doelgerig en met sukses te takel. Ons gaan hierop voortbou om die veiligheid van dié buurt te verseker,” sluit Stoop af.

Lede van die publiek word aangemoedig om by hul naaste AfriForum-buurtwag aan te sluit om sodoende hul omgewing te help beveilig. Skakel Leendert Stoop by 074 513 6199 of stuur ’n e-pos aan voorsitter.durbanville@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings