|

Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit bedrieg inwoners oor rampgebied

Die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit bedrieg die inwoners van dié munisipaliteit ná daar verlede week aangekondig is dat die area waar ’n verwoestende veldbrand op 16 September uitgebreek het, tot rampgebied verklaar sal word. Tydens dié brand het 12 huis afgebrand en 37 ander huise en strukture is beskadig. Wetgewing vereis dat wanneer ’n area tot rampgebied verklaar word dit in die Staatskoerant publiseer moet word en die regulasies van die ramp uiteengesit moet word. Die rampgebied is egter steeds nie amptelik in die Staatskoerant aangekondig nie.

Wanneer ’n gebied tot rampgebied verklaar word is dit veronderstel om makliker te wees vir diegene wat die hardste deur ’n ramp getref is om hulp te ontvang. “AfriForum is egter bekommerd dat indien die rampgebied nie amptelik in die Staatskoerant aangekondig word met die bygaande regulasies nie dit sal lei tot meer onsekerheid in die gemeenskap. As hierdie munisipaliteit toegang het tot meer fondse wat veronderstel is om verligting te bring in die rampgebied en dit word nie reg reguleer nie sal die gemeenskap verder daaronder ly,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

AfriForum het verlede week saam met die Phalaborwa-gemeenskap en ander organisasies vergader oor die veldbrand. “Tydens hierdie vergadering het die gemeenskap twee groot bekommernisse uitgelig naamlik watervoorsiening en -druk, asook die plantegroei wat handuit ruk in die dorp. Die brandgevaar in hierdie omgewing is tans baie hoog en plantegroei wat nie beheer word nie en onsekerheid oor watervoorsiening dra by tot die risiko dat nog ’n brand kan uitbreek in dié dorp,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Waterberg. 

Die plaaslike AfriForum-tak help tans om die nodige gebeurlikheidsplanne in plek te sit.

Soortgelyke plasings