|

Fochville-tak maak Burgersentrum skoon

AfriForum se Fochville-tak het op 8 Julie in samewerking met die gemeenskap die Fochville Burgersentrum skoongemaak. Sowat 20 vrywilligers het gehelp om gras te sny, bome te snoei, molshope plat te stoot en die parkeerterrein op te ruim. Vyf vragte tuinvullis en rommel is met ’n bakkie en ’n twee meter lange sleepwa weggery.

Hierdie aksie is geloods nadat die gemeenskap begin kla het dat dié sentrum en die area rondom gevaarlik word aangesien oorgroeide bosse en lang gras skuilplek vir boosdoeners bied. Die Fochville-tak en lede van die gemeenskap het besluit om die sentrum en omliggende area skoon te maak. Die toestand is egter so haglik dat dit die tak nog ’n dag sal neem om dit behoorlik op te ruim.

“Dit is belangrik dat die gemeenskap saamstaan en verantwoordelikheid vir hul gemeenskap se veiligheid neem. Die probleme moet getakel word om misdaad hok te slaan. Dit is ook belangrik om die Merafong Plaaslike Munisipaliteit onder druk te plaas sodat hul hulle verantwoordelikheid teenoor die publiek nakom om infrastruktuur soos dié op te gradeer,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.

Klik hier en sluit aan by die Fochville-tak.

Soortgelyke plasings