|

Forum Nuus: Die Week se Blitsflits

Benewens nog ’n groot oorwinning vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid in ’n saak wat voor hul betrokkenheid nie veel vordering getoon het nie, het die AfriForum se Groter-Moot-tak in Pretoria vandeesweek daarin geslaag om ’n groep sluipslapers uit ’n gebou te verwyder.

Die privaatvervolgingseenheid het gehelp dat die families van Ruan Coen en Jessika Kennedy afsluiting vind. Dié paartjie is in 2017 in ’n motorongeluk op die N4-snelweg net buite Pretoria dood. Andrew Kagiso Malele is vir effektief agt jaar tronk toe gestuur ná hy op aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag skuldig gepleit het. Hy het beheer oor sy motor verloor en teen die verloofde paartjie se motor gebots. Sy bestuurslisensie is ook opgeskort.

Die saak het aanvanklik nie juis gevorder nie en die dossier het ook op ’n stadium vermis geraak. Ursula Kors, Coen se ma, het die privaatvervolgingseenheid gevra om in te gryp waarna die dossier van voor af opgebou is.

AfriForum het ’n brief aan onder andere pres. Cyril Ramaphosa gestuur en versoek dat stappe geïmplementeer word om verligting aan die kragsektor te bring. Dit volg ná Eskom aansoek gedoen het om kragtariewe volgende jaar met 32,66% op te stoot.

“Dit is Eskom se onvermoë wat mense dwing om na alternatiewe kragopwekkingsmetodes te kyk en nou moet dieselfde mense daarvoor beboet word. Eskom wil hê verbruikers moet vir krag betaal wat hulle tans nie eers kry nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder

Die Groter-Moot-tak het ’n besige week agter die rug. Nie net is die suidekant van die spruit in ’n gesamentlike aksie saam met die gemeenskap skoongemaak nie, maar meer as 70 onwettige sluipslapers is ook in die omgewing van Foley & Law by Voortrekkerweg saam met die SAPD uit ’n gebou verwyder. Die tak se skoonmaakaksies sal elke maand gehou word met ’n skoonmaak aan die noordekant van die spruit wat vir volgende maand beplan word.

In Christiana het die AfriForum-tak sebrastrepe voor die Gekombineerde Skool Christiana oorgeverf. Die projek is saam met die jeug aangepak om ’n verskil in die dorp te maak.

’n AfriForum-buurtwag is onlangs in Swellendam op die been gebring. Jean Heath sal as buurtwagleier dien. Volgens Heath kan die beveiliging van ’n gebied nie in silo’s bedryf word nie en die buurtwag sluit hom aan by ’n netwerk van ander AfriForum-strukture. AfriForum-buurtwaglede word opgelei om die regte besluite te neem om die onderskeie veiligheidsuitdagings wat kan opduik, te hanteer.

Chris Plomaritis, Wally Walters, Estelle Walters, J.J. Heath en Hans Theron

Soortgelyke plasings