|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n verslag bekendgestel oor die ANC-mislukkings en federale oplossings. Dié verslag wys die mislukkings van die regering oor die afgelope jare uit in sleuteldiensleweringsareas soos energieverskaffing, polisiëring, onderwys en vervoerinfrastruktuur.

Die Menseregtekommissie het bevind dat Julius Malema, leier van die EFF, se uitlatings verlede maand wel op haatspraak en aanhitsing tot geweld neerkom. Dit volg nadat AfriForum, sy lede en verskeie ander organisasies klagtes teen Malema in dié verband ingedien het.

AfriForum het ook die diversiteitskursus wat by Hoërskool Vishoek aangebied is, ten sterkste veroordeel en sê dit is jammer dat die sessie hoegenaamd plaasgevind het.

Na aanleiding van die Khampepe-verslag oor rassisme by die Universiteit Stellenbosch is AfriForum van mening dat Afrikaanssprekendes se taalregte nie van hulle ontneem kan word in reaksie op die wangedrag van enkelinge nie.

AfriForum se buurtwagte het vandeesweek op verskeie gebiede bygedra om inwoners van hul onderskeie dorpe te help beveilig deur samewerking met ander veiligheidsrolspelers.

In Mookgophong het die Naboomspruit-buurtwag in samewerking met Rural Safety Naboomspruit, Mokopane Rural Safety, Reflex Secure Naboomspruit en Reflex Secure Mokopane drie verdagtes in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is dat die rowers besig was om goedere op ’n plaas te buit. Die gesteelde eiendom is teruggevind, asook die voertuig wat in die betrokke misdryf gebruik is.

Die Wes-Moot-tak het saam met die SAPD, die Hercules-gemeenskapspolisiëringsforum, die Departement van Binnelandse Sake en die Departement van Korrektiewe Dienste aan ’n misdaadvoorkomingsaksie in die Hercules-omgewing deelgeneem. Onwettige immigrante is aangekeer en daar is ook aandag gegee aan die onwettige verkoop van drank, dwelmhandel en verkeersoortredings.

Die Songloed-buurtwag in Klerksdorp het sewe stoptekens in dié buurt vervang aangesien die gebrek aan stoptekens ’n groot veiligheidsrisiko vir motoriste ingehou het.

AfriForum het ook vandeesweek ’n brief aan die Ekurhuleni Metro gestuur oor die gebrek aan vullisverwydering aan die Oos-Rand nadat die diensverskaffers wat die vullis moet verwyder glo nie betaal is nie.

In die Noord-Kaap het die Bo-Karoo-tak in Orania saam met rolspelers die eerste wenners van Orania se Groentjies-projek aangewys. Hierdie projek het ten doel om kinders te bemagtig met kennis om groente en vrugte te verbou om sodoende voedselsekerheid in die dorp te vestig.

Soortgelyke plasings