|

Forum Nuus: Die week se Blitsflits

Deur Alet Rademeyer

AfriForum was die afgelope week by verskeie aksies betrokke waar die noodsaaklikheid van water en toegang tot water beklemtoon is.

Die organisasie se Bo Karoo-streektak, Saai en die Orania Beweging het ingespring om boere in die Noord-Kaap en dele van die Vrystaat te help ná die verwoestende brande, vermoedelik weens brandstigting, uitgebreek het. Derduisende hektaar weiding in die Kimberley- en Hopetown-omgewing het afgebrand en vee en wild het gevrek. ’n Beroep is op die publiek gedoen om donasies te maak en voer te skenk om die boere te help.

AfriForum se takke in Pretoria-Noord het in Augustus ’n waterkar aangekoop wat nou gebruik is om meer as tien veldbrande te blus en ander brande onder beheer te bring. Dié waterkar word gebruik om die gemeenskap en die plaaslike brandweer tydens onluste en veldbrande te help. Danksy die waterkar is grootskaalse skade vermy.

Piet Roos en Tonie Goosen maak skoon in Vanderbiljpark.

AfriForum het ’n oorwinning in die Hooggeregshof in Mafikeng behaal teen die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit nadat inwoners van Delareyville, Sannieshof en Agisanang al vir jare gebuk gaan onder swak watervoorsiening deur dié munisipaliteit. AfriForum het dié saak met koste gewen en die distriksmunisipaliteit is deur die hof beveel om sekere maatreëls vir watervoorsiening en –verspreiding in plek te kry.

Jan Erasmus sny gras in Rustenburg.

Die Vaalrivier is steeds in ’n krisis gedompel en AfriForum het weer ’n brief aan Senzo Mchunu, minister van Water en Sanitasie, gerig nadat dit aan die lig gekom het dat riool steeds op verskeie plekke in die rivier gestort word. Die voormalige minister, Lindiwe Sisulu, het vroeër gesê haar departement en Rand Water in samewerking met rioolsuiweringsaanlegte is nou in beheer van die situasie. AfriForum het ’n hand na die departement uitgereik om hulle te help met advies vanuit die organisasie se spesialistedatabasis. AfriForum sal voortgaan om druk op die regering te plaas om dié situasie reg te stel.

Die Potchefstroom-tak

Rustenburg se tak het ’n volhoubare skoonmaakprojek begin en gras op sypaadjies en oop spasies in die dorp gesny. Rommel is ook verwyder. Verskeie verfaksies gaan binnekort afskop.

Potchefstroom en Vanderbijlpark het ook ’n suksesvolle #VegEnBou-week agter die rug met talle slaggate wat gevul en gras wat gesny is.

Soortgelyke plasings