|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

Dreigende regstappe deur AfriForum het die minister van Finansies genoop om van sy plan af te sien wat Eskom sou vrystel oor hoe die kragvoorsiener oor onreëlmatige spandering en wanbesteding moet verslag doen. Bande is ook gesmee tussen dié burgerregteorganisasie en die Batlharo Boo Tokwana-Ga-Masibi, terwyl verskeie takke die afgelope week ’n verskil in hul gemeenskappe gemaak het.

Enoch Godongwana, minister van Finansies, het verlede week in die Staatskoerant aangekondig dat Eskom op sekere wyses vrygestel sou word oor hoe daar oor hoe daar oor onreëlmatige spandering en wanbesteding verslag gedoen word. Dié reëling sou vir drie jaar in plek wees en sou beteken dat daar geen aanspreeklikheid vir finansiële bestuur is nie wat die sluise vir korrupsie nog verder sou opmaak. Ná AfriForum en ander burgerlike organisasie kapsie gemaak en met regsoptrede gedreig het, het Godongwana skielik van plan verander en sy besluit herroep.

AfriForum het reeds samewerkingsooreenkomste met verskeie tradisionele gemeenskappe en het vandeesweek ook bande met die Batlharo Boo Tokwana-Ga-Masibi Tradisionele Gemeenskap van Disaneng, wes van Mahikeng in die Noordwes-provinsie gesmee. Daar is by ’n vergadering besluit om veral op die gebied van landbou-ontwikkeling, gemeenskapselfstandigheid en die versekering van die eienaarskap van grond van die tradisionele gemeenskap, saam te werk.

Staande, links na regs: M. Khoane, M. Leburu, M.S. Masibi, I. Setshoantsho, N. Medupe, B.N. Makabanyane
Sittend, links na regs: J. Modungwa, B.P. Uys, Kgosi S.M.J. Masibi, N. Kelder, T.V. Masibi

“Vir ’n oplossing om te werk moet dit op die werklikheid gebaseer wees. Ons werklikheid is dat daar baie verskillende kultuurgemeenskappe is wat die suidpunt van Afrika hul tuiste noem. Ons toekomsplanne moet hierdie werklikheid in ag neem,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum

Inwoners van die Moot in Pretoria is al gewoond om AfriForum se buurtspan op allerlei maniere besig te sien. In Maart het dié span bykans 20 ha se gras gesny en meer as 480 ure met bossiekappers gewerskaf. Die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit het 96 geelsakke rommel weggery wat die span bymekaar gemaak het. Verder het die span 27 verkeersligte, agt straathoeke, twee verkeerskruisings en twee verkeerseilande oorgeverf. Die span het egter nie daar gestop nie en het ook ’n bankie in ’n park gebou sodat die publiek die opgeknapte area kan geniet.

In Upington het die AfriForum-tak ’n bekende duikweg skoongemaak. Dit word daagliks deur talle motoriste en voetgangers gebruik. AfriForum Jeug het ook betrokke geraak en ’n park is skoongemaak waar bome gesnoei en gras gesny is. ’n Klomp rommel is ook verwyder.

Soortgelyke plasings