|

Forum Nuus: Dié Week se Blitsflits

AfriForum het vandeesweek ’n groot oorwinning teen Rand Water in die Hooggeregshof in Pretoria behaal. Dié waterverskaffer, wat die waterdruk na dorpe in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit verlaag het omdat hierdie munisipaliteit etlike miljoene aan Rand Water skuld, is deur die hof beveel om die waterdruk weer na normaal te verhoog. Die waterdruk in dié dorpe was met tye so laag dat daar nie water in die krane was nie en die hof het beslis dat Rand Water ongrondwetlik en ongeldig opgetree het.

In reaksie op bewerings dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf het, is AfriForum van mening dat president Cyril Ramaphosa en die ANC-regering besig is om Suid-Afrika na ekonomiese selfdood te lei deur die oorlog in die Oekraïne ook nou Suid-Afrika se oorlog te maak. Volgens die organisasie is die oorlog in die Oekraïne nie Suid-Afrika se oorlog nie en moet die land eerder plaaslik oorlog voer teen armoede, misdaad, korrupsie en mislukkende sentralisme.

Die privaatvervolgingseenheid het lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, tot 30 Mei gegee om terugvoer te gee oor die stand van die korrupsie-ondersoek teen Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die ANC. Strafregtelike klagtes is in 2019 reeds teen Mbalula, toe Minister van Sport, ingedien oor ’n gesinsvakansie na Doebai.

Ná die wegholsukses van die eerste speelvak van die musiekblyspel Die Kaplyn is dié produksie se speelvlak by die AfriForum Teater tot 4 Junie verleng. Die Kaplyn is ’n aangrypende verhaal van die gebeure tydens die Grensoorlog in die 1980’s.

Die AfriForum-tak in Rustenburg het Manuka- en Kremetartlaan as deel van die organisasie se #MyWoonbuurt-kompetisie skoongemaak. Die tak het 0,65 ha se bosse en riete gesny.

Die Klerksdorp-tak het voortgegaan met hulle skoonmaakprojek in Buffeldoornweg en ’n groot gedeelte van die stormwaterslote is skoongemaak. Die tak sal nou die res van die pad skoonmaak en die gras op die eilande sny.

Soortgelyke plasings