|

Forum Nuus: Dié week se Blitsflits

AfriForum Jeug het vandeesweek ’n reuseoorwinning vir studente van die Universiteit van Pretoria (UP) behaal. Verteenwoordigers van AfriForum se takke in die Wes-Kaap gaan oor die volgende twee weke mondelingse kommentaar teen die voorgestelde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) indien. Dié burgerregteorganisasie het ook ’n verslag bekendgestel wat die swak vervolgingskoers van plaasaanvallers en -moordenaars uitwys.

Al agt die EFF se studenteraadskandidate by die UP is gediskwalifiseer ná hulle dié universiteit se studenteraadsverkiesingsreëls oortree het. AfriForum Jeug het ’n klagte teen die EFF-kandidate by die UP ingedien ná dit aan die lig gekom het dat hulle in die strate van Hatfield onder meer “Kill the Boer” gesing het en studente op ander wyses geïntimideer het.

René van der Vyver, woordvoerder van AfriForum Jeug

AfriForum het vandeesweek ’n verslag bekendgestel waarin die skokkende statistiek van vervolgings van plaasaanvallers -en moordenaars beklemtoon word. Meer as 95% van plaasaanvalle en -moordinsidente wat vanaf 2019 tot 2022 plaasgevind het, is steeds onopgelos. Daar was in hierdie tydperk geen suksesvolle vervolgings van plaasmoordinsidente in Gauteng, Noordwes, Mpumalanga of die Noord-Kaap nie. AfriForum het egter ’n strategie vir die verbetering van plaasveiligheid ontwikkel. Dit behels onder meer die opleiding van plaasbewoners en die uitbreiding van veiligheidstrukture.

Inwoners van Pretoria en Centurion sal na verwagting weer teen die einde van September Wierdaweg (M10), in die omgewing van dié pad se aansluiting met die N14-hoofweg, kan gebruik. Dit volg nadat AfriForum se privaatvervolgingseenheid en besorgde sakelui die nadelige gevolge van dié sinkgat, wat in November 2022 daar gevorm het, in ’n brief aan Kedibone Diale Tlabela, Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, beklemtoon het. Kort daarna is ’n kontrakteur vir die herstel van dié pad aangestel. Volgens die kontrakteur behoort die pad teen die einde van September weer in beide rigtings toeganklik te wees.

Herstelwerk aan Wierdaweg (M10)

AfriForum se teenboeliespan het die afgelope week skole in Wellington en die Paarl besoek om inligtingsessies aan te bied. Kinders, onderwysers en ouers word hierdeur bemagtig om boeliegedrag hok te slaan. Voorts leer kinders hoe om tussen afknouery en konflik te onderskei. Dié span het ook hul dank uitgespreek teenoor die Gautengse LUR vir Onderwys, Matome Chiloane, wat onlangs aangekondig het dat ’n strategieë vir die bekamping van selfdood onder skoliere ontwikkel gaan word.

Met Boomplantmaand wat goed op dreef is, het die AfriForum Hessekwa- en Bo Karoo-takke vandeesweek bome geplant of ontvang wat binnekort geplant sal word. In Parys en Pretoria het AfriForum gehelp om slaggate te herstel en in Potchefstroom het die AfriForum-tak padmerkers oorgeverf. In Bothaville het die AfriForum-buurtwag gehelp om kabeldiewe vas te trek.

AfriForum het slaggate in Parys herstel.

Op Herold, net buite George, het AfriForum se George-tak gebeurlikheidsplanne ingeoefen. Hierdie oefeninge help taklede om doeltreffend tydens ’n noodsituasie op te tree en veiligheid op te skerp. AfriForum se Sasolburg-tak het ook verskeie patrollies saam met ander rolspelers, insluitend die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gery om misdaad in die dorp te bekamp.

Soortgelyke plasings