|

AfriForum versoek dringende vergadering met Mashatile oor waterkrisis

Rig voorlopige uitnodiging na die AfriForum Waterkonferensie aan adjunkpresident en minister

AfriForum verwelkom adjunkpresident Paul Mashatile en die minister van Water en Sanitasie, Senzo Mchunu, se aankondiging dat die nasionale regering bereid is om AfriForum en ander rolspelers in die burgerlike gemeenskap by die regering se watertaakspan te betrek. AfriForum het intussen vandag versoek dat ’n dringende vergadering tussen die onderskeie partye belê word om die aangeleentheid verder te bespreek. Die vergadering is aangevra om die ernstige kwessies rakende waterbestuur en die volhoubaarheid van dié skaars hulpbron in Suid-Afrika onder die loep te neem.

AfriForum het diepe kommer oor die stand van waterhulpbronne in Suid-Afrika en is daartoe verbind om oplossings te vind vir die uitdagings wat gemeenskappe oor die hele land heen ondervind. Strategieë en inisiatiewe wat daarop gemik is om waterinfrastruktuur en -dienste te verbeter moet daarom dringend met Mashatile en Mchunu bespreek word.

Benewens die versoek om ’n vergadering, kondig AfriForum ook sy komende Waterkonferensie aan wat in Junie 2024 sal plaasvind. Dié konferensie sal dien as ’n platform vir rolspelers om kwessies rakende waterbestuur te bespreek en volhoubare oplossings te ondersoek. AfriForum beoog om na afloop van die konferensie in gesprek te tree met verskeie relevante staatsdepartemente om sodoende verdere planne vir die takeling van die waterkrisis te ontwikkel.

“As deel van ons verbintenis om innoverende oplossings te vind, beveel AfriForum ook die benutting van gesamentlike projekte en soortgelyke meganismes aan waarmee samewerking tussen die regering en plaaslike gemeenskappe bevorder kan word. Ons glo dat die bemagtiging van bekwame plaaslike gemeenskapslede om bystand te bied in waterdienslewering noemenswaardige verbetering in die doeltreffendheid van waterdienslewering kan bied,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.

AfriForum sien daarna uit om saam te werk met regeringsamptenare, waterdeskundiges en gemeenskapsverteenwoordigers by die Waterkonferensie sodat ’n koers vasgestel kan word vir ’n volhoubare toekoms vir water in Suid-Afrika. Ons verwag produktiewe gesprekke en werkbare uitkomste wat tot die voordeel van alle Suid-Afrikaners sal wees.

AfriForum het intussen reeds in vennootskap getree met Pionier-dienstemaatskappy, WaterGroup en die Waterinstituut van Suider-Afrika (WISA) vir die aanbied van ’n geakkrediteerde voortgesette professionele ontwikkelingskursus (VPO-kursus) in water- en afvalwaterbehandeling. Ons rig ’n uitnodiging aan munisipaliteite om aansoek te doen om hierdie kursus te doen wat daarop gemik is om hulle toe te rus met die nodige vaardighede om waterprobleme doeltreffend die hoof te bied. 

Die burgerregteorganisasie doen voorts ook ’n beroep op Mashatile en Mchunu om die vergadering met AfriForum te prioriseer en saam met belanghebbers te werk om die waterprobleme wat die land in die gesig staar, te pak.

Soortgelyke plasings