|

GOP: Mbombela-munisipaliteit moet fondse reg bestee

AfriForum se Nelspruit- en Witrivier-takke het skriftelike kommentaar op die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien. Hierdie kommentare is saamgestel na deeglike ontleding van die munisipaliteit se finansiële jaarverslag en die ouditeur-generaal se verslag, wat ernstige kwessies oor die munisipaliteit se finansiële bestuur uitlig.

Volgens die jaarverslag het die Mbombela-munisipaliteit ’n totale inkomste van R4,4 miljard en ’n totale uitgawe van R4,5 miljard gerapporteer, wat ’n tekort van R116,8 miljoen tot gevolg het. Hierdie tekort van bykans R117 miljoen is kommerwekkend en dui daarop dat die munisipaliteit meer spandeer as wat dit verdien, wat op die lang duur nie volhoubaar is nie. Daar moet dringend opgetree word om hierdie tekort op te los.

Die jaarverslag dui ook daarop dat daar R65 miljoen oorbestee is aan werknemerskostes weens betalings vir oortyd en bystandtoelaes. Verder is daar R138 miljoen oorbestee aan finansieringskoste, wat verband hou met die skuld wat die munisipaliteit aan Eskom en Silulumanzi, ’n watersuiwering- en afvalwaterdiensverskaffer, skuld. Die ouditeur-generaal se verslag het ook onreëlmatige en vrugtelose besteding van R204,7 miljoen gedurende die vorige boekjaar geïdentifiseer. Hierdie onreëlmatighede is ’n ernstige saak en moet dringend getakel word om verdere finansiële wanbestuur te voorkom.

AfriForum se Nelspruit- en Witrivier-takke het ook die volgende kwessies in hul GOP-kommentare bespreek:

• Swak instandhouding van parke en openbare ruimtes.
• Straatligte wat buite werking is.
• Mangate wat oorloop.
• Waterinfrastruktuur wat in Witrivier opgegradeer moet word.

“AfriForum versoek dus dat die munisipaliteit die GOP-proses gebruik om hierdie probleme, soos aan hulle uitgewys, op te los deur voldoende fondse aan elke individuele kwessie toe te wys,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum sal voortgaan om die situasie te moniteer en bly verbind tot die bevordering van goeie bestuur en aanspreeklikheid binne die Mbombela-munisipaliteit.

Soortgelyke plasings