Bybel, kerk
|

Verskerp veiligheid by kerke só; AfriForum stel veiligheidsassessering vir kerke bekend

Toenemende misdaad by kerke, waartydens gemeentelede in sekere gevalle selfs onder die diens aangeval en beroof word, het in die afgelope tyd drasties toegeneem. Daarom het AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid ’n assesseringsdokument vrygestel wat kerke as riglyn in die verskerping van hul veiligheid kan gebruik.

Rowers beskou kerke dikwels, volgens AfriForum, as ’n sagte misdaadteiken en die toenemende voorkoms van aanvalle by kerke is sprekend daarvan. Meer as 1 500 gemeentes het Faith Mazibuko, die LUR vir Gemeenskapsveiligheid in Gauteng, byvoorbeeld, in November verlede jaar genader om juis bewustheid oor die voorkoms van dié misdaad by kerke te skep.

Volgens AfriForum word die basiese reg op ’n veilige omgewing deur hierdie misdade ondermyn en kan daar nie net toegekyk word hoe die regering en wetstoepassers ongeërg hierteenoor staan nie. Met hierdie handleiding wil AfriForum kerke bemagtig om proaktief op te tree deur ’n oudit te doen van die veiligheid van die kerk en sy lidmate, en deur maatreëls gereed te hê om die veiligheid van lidmate in kerke te verbeter.

Die organisasie nooi ook kerke om kontak te maak met AfriForum-buurtwagte in hul gemeenskappe om groter samewerking ten opsigte van veiligheid te bewerkstelling. Voorvalle van misdaad by kerke het die afgelope tyd gewys dat kerke nie voorbereid is op die gevare wat misdaad inhou nie. Daarteenoor, is ’n voorbereide kerk – wat die nodige veiligheidsmaatreëls het én volg – ’n moeilike teiken vir misdadigers en sal die kriminele heel moontlik hul fokus verskuif. Boonop kan ’n voorbereide kerk die risiko’s en impak van misdadige aktiwiteite doeltreffend verminder.

Hierdie handleiding bied gevolglik riglyne sodat kerke, hul personeel en hul lidmate op hierdie soort risiko’s – waaronder inbrake, gewapende roof, voertuigdiefstal en brandstigting – voorbereid kan wees.

“In die verlede het die regering sy verantwoordelikheid ten opsigte van die beveiliging van gemeenskappe nagekom en dit was nie nodig vir sekuriteitsmaatskappye of ander instansies om kerke te beveilig nie. Kerkleiers fokus dus nie noodwendig op die ontleding van risiko’s en die daarstel van veiligheidsmaatreëls nie. Dié leemte ten opsigte van beveiliging moet gevolglik dringend hanteer word, aangesien misdaad aan die toeneem is en daarom het AfriForum hierdie assesseringsinstrument vrygestel,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die assesseringsdokument is gratis beskikbaar in Engels en Afrikaans op AfriForum se webblad. Klik hier om betrokke te raak by jou plaaslike AfriForum-buurtwag.

Soortgelyke plasings