AfriForum neem by grensverskuiwende SEB-seminaar sterk standpunt in teen rassediskriminerende beleide

AfriForum se hoof van openbare betrekkinge, Ernst van Zyl, het vandag as spreker by ’n seminaar oor swart ekonomiese bemagtiging (SEB) opgetree. Die seminaar is aangebied deur Kagiso Capital, FirstRand Empowerment Foundation en die Kagiso Trust. Die seminaar was getiteld “Beyond the façade: The bittersweet reality of B-BBEE”. Van Zyl het as lid van die paneel met betrekking tot SEB se praktiese en morele gebreke kritiek gelewer op rassediskriminerende beleide en ook oplossings, wat nie op rassewetgewing berus nie, aangebied vir die probleme wat die land in die gesig staar. 

Volgens Van Zyl was hierdie seminaar tekenend van die verskuiwing in die politieke landskap, siende dat dit die eerste keer is wat groot finansiële rolspelers begin om op ’n kritieke wyse die tekortkominge van SEB te bespreek en selfs kritiese stemme te nooi om ook aan dié gesprek deel te neem.

“Rassediskriminerende beleide en wetgewing in Suid-Afrika word toenemend moeiliker om te verdedig. Die sakegemeenskap toon ’n bereidwilligheid om krities in gesprek te tree met rolspelers buite die pro-diskriminerende organisasies en dit is ’n baie positiewe verwikkeling,” sê Van Zyl.

“AfriForum se uitnodiging na dié geleentheid wys daarop dat die gety besig is om teen rassediskriminerende wetgewing in Suid-Afrika te draai. As ’n burgerregteorganisasie sal ons toesien dat ons ’n produktiewe rol in hierdie proses speel,” sluit Van Zyl af.

’n Opname van die seminaar is hier beskikbaar: https://youtu.be/U9igRMDVb-I

Soortgelyke plasings