|

Groter Moot-buurtspan en -buurtwag verfraai en beveilig omgewing gedurende Mei

AfriForum se Groter Moot-buurtspan en -buurtwag het al keer op keer gewys dat hulle hande vir niks verkeerd staan nie en gedurende Mei het dié spanne hard gewerk om die Moot-omgewing te verbeter en te beveilig.

Die buurtspan het onder meer 45 man-ure op bossiekappers en 95 man-ure op kettingsae spandeer om die omgewing netjies te maak. Daar is ook gras gesny tussen 30ste- en 31stelaan by die spruit waar sluipslapers hulself tuismaak en ook wegkruip ná misdade gepleeg is.

Die buurtspan het ook ’n bydra gemaak om padveiligheid te bevorder deur takke te snoei wat voor padtekenborde groei in Codonialaan, Hertzog- en Ben Swartstraat. Voorts het die buurtspan ook die sirkel en padtekens geverf in Hertzogstraat voor Waverley Plaza. Die verf ter waarde van R26 000 is deur Libra Measuring geskenk.

Die Groter Moot-buurtwag het ook suksesse gehad in Mei met behulp van hul uitgebreide inligtingsnetwerk. Die buurtwag het inligting aan Proshield-sekuriteit deurgegee wat gelei het tot die suksesvolle arrestasie van ’n verdagte wie se voertuig verbind word met ’n diefstalsaak – daar is beslag gelê op die voertuig. In ’n ander geval is daar ook inligting uitgeruil met Proshield-sekuriteit wat gelei het tot die vastrek van drie verdagtes, een van die verdagtes is later by die Villieria-polisiestasie gearresteer – daar is ook op hulle voertuig beslag gelê.

“Die tak is toegewyd om ’n skoner en gesonder omgewing vir ons gemeenskap te bevorder. Ons is verheug oor die sukses wat hierdie projekte tot dusver behaal het. Ons glo dat dit ’n positiewe impak op die estetiese waarde van die Moot sal hê en dat dit die algehele welstand van ons inwoners ook positief sal beïnvloed,”sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Soortgelyke plasings