Hof gee môre uitspraak oor Zuma se aandeel om SAOG-menseregtehof af te skaf


Uitspraak sal op Donderdag, 1 Maart 2018 om 10:00 gelewer word in die aansoek van verskeie Zimbabwiese kommersiële boere om die Suid-Afrikaanse regering se aandeel in die afskaffing van die tribunaal van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) onwettig te laat verklaar.
Die SAOG-tribunaal het sigself vinnig as ’n gerespekteerde menseregtehof vir die hele Suider-Afrikaanse streek gevestig. Dié tribunaal het in November 2008 ten gunste van wyle Mike Campbell en 77 ander kommersiële boere beslis dat Zimbabwe se grondhervormingsproses onregmatig en rassisties was. In 2011 het die leiersberaad van die streek egter op aandrang van Robert Mugabe, destydse Zimbabwiese leier, besluit om die tribunaal se verrigtinge op te skort nadat dit bevind het dat die Zimbabwiese regering aan minagting van die hof skuldig was. Mugabe is destyds deur oudpresident Jacob Zuma en al die ander SAOG-leiers daarin gesteun.
Die hofaansoek teen die Suid-Afrikaanse regering se medepligtigheid in die afskaffing van ’n menseregtehof is aanvanklik laat in 2015 deur die Suid-Afrikaanse Prokureursorde gebring. Ben Freeth, wyle Mike Campbell se skoonseun, asook Luke Tembani, ’n swart kommersiële boer, en drie ander boere het egter met die ondersteuning van AfriForum suksesvol aansoek gedoen om tot die saak toe te tree. Argumente in die saak is op 5 Februarie vanjaar aangehoor voor ’n volbank regters bestaande uit die Gautengse regterpresident, Dunstan Mlambo, bygestaan deur regters Mngqibisa-Thusi en Hans Fabricius.
Môre se uitspraak word in die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof, hoek van Paul Kruger en Madibastraat, Pretoria gelewer.

Soortgelyke plasings