|

Kaapstad-Noord-tak fokus op selfstandigheid

AfriForum se Kaapstad-Noord-tak het op 1 Oktober altesaam 20 vrugtebome waaronder appel-, peer-, pruim-, nartjie-, lemoen-, nektarien- en appelkoosbome sowel as ’n klomp kratte, waarin die vrugte tydens oestyd gestoor kan word, aan die groep Jesus in Aksie (JiA) oorhandig.

Die JiA-groep het tien van die bome by die groep se Lasarus Stoor by die ou Brackenfell-treinstasie geplant en beplan om die oorblywende tien bome op 8 Oktober te plant. Hierdie bome is sorgvuldig gekies sodat daar vir die grootste deel van die jaar vrugte gepluk kan word. Hierdie uitbreiding van die JiA se vrugteboord, saam met ’n groentetuin, vorm deel van hulle Ons Tuin-projek.

Die Kaapstad-Noord-tak en die JiA-groep in Brackenfell werk al die afgelope paar jaar saam aan hierdie volhoubare projek. Die projek het sy ontstaan in 2019 gehad waartydens AfriForum waterpompe geskenk het. In September verlede jaar, tydens fase een van die boord se aanleg, het AfriForum ook 20 vrugtebome geskenk.

Met hierdie projek poog dié groep om mense in nood by te staan terwyl lede van die gemeenskap met kundigheid en harde werk inspring om van die projek ’n sukses te maak. Die opbrengste uit die groentetuin word aan mense in nood geskenk of verkoop waarvan die wins gebruik word om noodbehoewende mense by te staan.

“Dis werklik ’n riem onder die hart om JiA se groentetuin en boord te sien floreer asook hoe dít wat hulle ontvang het, vermeerder en versorg word. Verlede jaar se boompies kom mooi aan en ons sien daarna uit om in die volgende paar jaar die eerste vrugte te pluk,” sê Deon de Jager streekshoof vir die Suidstreek.

“Ons wil graag sien hoe gemeenskappe na hulself omsien, hulle toekoms in hul eie hande neem en daarop voortbou,” sluit De Jager af.

Die tak moedig die Brackenfell-gemeenskap aan om by AfriForum se Kaapstad-Noord-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil in hul gemeenskap te maak: SMS “Kaapstad-Noord” na 45350 (R1) om vandag nog aan te sluit.

Soortgelyke plasings