|

Kempton Park-tak vul slaggate in Aston Manor

Die AfriForum-tak in Kempton Park het die afgelope naweek met behulp van die gemeenskap die herstel van slaggate geprioritiseer, omdat baie klagtes vanuit die gemeenskap ontvang is oor die slegte toestand van die paaie. Die tak het 60 slaggate, waarvan heelwat daarvan baie groot was, in die Aston Manor-woonbuurt gevul. Altesaam 105 sakkies teer, wat meer as 2,6 ton weeg, is tydens die projek gebruik.

“Baie paaie in Kempton Park is in ’n bedenklike toestand, omdat die nodige instandhouding en herstelwerk nie gedoen word nie. Hierdie projek is ’n manier waarop AfriForum se Kempton Park-tak wys hulle skroom nie om die gemeenskap te ondersteun nie. Dit is merkwaardig om te sien hoe die taklede die vroegoggend koue en die warm middagson getrotseer het om slaggate te vul. Dit is werklik iets om op trots te wees,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Inwoners van Kempton Park moet almal verantwoordelikheid neem vir hul gemeenskap om Kempton Park weer in ’n toestand te kry waarop almal trots is. Dit is belangrik om betrokke te raak en in die gemeenskap terug te ploeg. As ons net stil sit, sal die agteruitgang voortgaan. Baie dankie aan elke AfriForum-lid se ondersteuning sowel as die wenspan in Kempton Park wat hierdie projekte aangepak het,” sluit Ferreira af.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en sien hoe die gemeenskap hul toekoms in hul eie hande neem. Stuur ’n e-pos na kemptonpark@afriforumtak.co.za om aan te sluit.

Soortgelyke plasings