|

Klerksdorp-tak gee donasie as deel van #MyWoonbuurt-kompetisie

AfriForum het in Maart ’n kompetisie geloods om gemeenskappe te help om hul woonbuurte op te knap. Hierdie kompetisie gee AfriForum-lede die kans om te stem vir iets in hulle area wat dringend aandag benodig. Die woonbuurt wat die meeste stemme gekry het om opgeknap te word, is Neserhof.

Die buurtwag in Neserhof het te kenne gegee dat hulle die padmerke in die area wil oorverf. Die Klerksdorp-tak het besluit dat hulle ’n donasie sal gee om dié werk te doen. Die buurtwag het hierdie taak die afgelope week afgehandel.              

“Hierdie kompetisie is geloods sodat AfriForum-lede in dorpe ’n sê kan hê en hulle behoeftes kan uitspreek. Deur te stem vir jou woonbuurt, maak jy ’n verskil, want as jou woonbuurt wen, word die probleem getakel,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“Ons gaan later die jaar weer ’n #MyWoonbuurt-kompetisie hou om sodoende nog lede te help om probleme in hulle woonbuurte op te los. Ons wil graag aksies dryf wat direk in ons woonbuurte ’n verskil maak. Daarom moedig ons inwoners aan om die inisiatief te ondersteun en aan die kompetisie deel te neem deur te stem vir die probleem wat hulle graag in hul woonbuurte wil aanpak,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek.

“Dié kompetisie is weereens ’n bewys dat samewerking belangrik is om die agteruitgang van dorpe teen te werk. Inwoners van Neserhof en Oudorp wat by die buurtwag se projekte en aksies wil betrokke raak, kan vir Gallie Muller by 082 574 3388 kontak,” sê Frans Roos, voorsitter van die Klerksdorp-tak.

Indien jy by dié AfriForum-tak betrokke wil raak kontak Frans Roos by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings