|

Klerksdorp-tak knap Doringkruin met #MyWoonbuurt-projek op

AfriForum se Klerksdorp-tak, in samewerking met die Doringkruin-buurtwag sowel as die inwoners van Doringkruin het tien nuwe stoptekens oor ’n geruime tyd by Boekenhout- Meranti- en Apiesdoringstraat opgerig. Hierdie stoptekens verbeter die verkeersvloei en maak die buurt veiliger. Na harde werk is slaggate nou amper nêrens in die woonbuurt te sien nie en inwoners is reeds besig om die oorblywende slaggate op te vul. Hierdie woonbuurt is byna weer terug in ’n spogbuurt verander. Die woonbuurt is netjies gemaak sodat die inwoners trots kan wees om daar te bly.

“Die inwoners van Doringkruin stel ’n voorbeeld van wat bereik kan word wanneer mense ’n gemeenskaplike doel voor oë het. Ons help graag ander woongebiede om deel te neem aan die #MyWoonbuurt-projek om sodoende hulle buurt ook veilig en mooi te maak,” sê Frans Roos, voorsitter van die Klerksdorp-tak.

Hierdie projek is reeds in 2022 begin en met goeie samewerking is daar al ’n daadwerklike verskil in Doringkruin teweeggebring. Dit is egter ’n deurlopende projek en die inwoners moet nou self skouer aan die wiel sit en dit in stand hou.

“Ek is trots op dit wat die inwoners van Doringkruin vermag het deur mekaar se hande te vat. Dit bewys net weer dat die leuse: “Eendrag maak mag”, steeds geld. Hierdie inwoners gaan nie net lekkerder bly nie, hulle eiendom gaan ook sommer meer werd wees,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Inwoners wat by die #MyWoonbuurt-projek of soortgelyke projekte wil betrokke raak kan Frans Roos kontak by 083 378 8826.

Soortgelyke plasings