|

Lees, ’n integrale deel van ons

Deur Yolandi van der Merwe

Lees is ’n vaardigheid wat ons daagliks gebruik om die dinge om ons te verstaan. Leerders kan negatief wees teenoor lees indien dit vir hul moeilik is om te lees. Ons as ouers en onderwysers moet die belangrikheid van lees in gedagte hou om sodoende te verhoed dat kinders negatief raak daaroor. Om suksesvolle lesers te kweek, is daar ’n verskeidenheid vaardighede waaraan leerders blootgestel moet word. Sodra leerders dié vaardighede ten volle bemeester het, kan hul voordeel trek uit lees. Sommige leerders ervaar wel struikelblokke wanneer hul leer om te lees, maar as die struikelblokke vroeg geïdentifiseer word, kan die leerder steeds suksesvol wees.

Lees is van belang sodat ons die inligting vanuit ons omgewing kan ontsluit en dit kan verstaan. Sodra betekenis gekoppel word aan die inligting kan die betekenis daarvan oorgedra word aan ander mense deur verbale kommunikasie. Dit is dus van belang dat leerders met begrip kan lees anders is lees van geen nut vir hul nie. Dit is belangrik vir die leser om met begrip te lees om ’n prent in hul gedagtes te vorm van die inligting wat ontvang is uit hul omgewing. ’n “Gedagteprent” word gevorm wanneer die woord “skoen”, byvoorbeeld, aan die leerders gegee word, en hul ’n skoen in hul gedagtes kan sien. Elke leerder se begrip van ’n skoen sal verskil, maar hulle moet ’n skoen kan sien.

Om suksesvolle lesers te kweek, is daar vaardighede wat bemeester moet word. Van die vaardighede word alreeds op voorskoolse vlak aangeleer, maar word ten volle in graad 1 vasgelê. Elke leerder leer lees teen hul eie pas, indien die leerder se vaardighede teen die einde van graad 1 nog nie toepaslik vir hul ouderdom is nie, kan die vaardighede in graad 2 en 3 verder versterk word. Fonologiese en fonemiese bewustheid speel ’n baie belangrike rol in lees. Hierdie vaardighede help leerders om te verstaan wat in die leesstuk staan en om woorde waarmee hulle sukkel, te kan klank. Leerders moet vlot kan lees en woorde op sig kan herken, sonder om die woorde te klank. Dit sal leerders help om vlot te kan lees en hul leesspoed te verbeter. Vir leerders om vlot en met begrip te kan lees, is dit belangrik dat hul woordeskat uitgebrei word. Daarom moet onderwysers die leerders reeds in graad R blootstel aan sigwoorde. Die laaste vaardigheid wat van kardinale belang is, is begrip.

Vir beide oud en jonk, hou lees baie voordele in. Dit is egter belangrik dat lees in die klaskamer sowel as tuis aandag sal geniet. Lees help met konsentrasie en voltooiing van take. Wanneer ons lees, ervaar ons verskillende emosies soos hartseer, woede of dalk blydskap. Deur hierdie emosies te ervaar, kweek ons ook emosionele bewustheid.

Lees help ons om te memoriseer. Ons moet kan onthou wat ons gelees het sodat ons kan verstaan wat in die storie gebeur het. Wanneer ons verskeie boeke of artikels lees wat ons interesseer, kan dit ons ook motiveer om meer te lees. Ons kennis word uitgebrei deur gereeld te lees en so bly ons op hoogte van verskeie gebeure in ons leefwêreld. Lees gryp ons verbeelding aan wat help dat ons meer kreatief raak. Ons vermoë om probleme op ’n kreatiewe wyse aan te pak, verbeter ook. Soms sukkel ons as mense om empatie te hê met ander. Ons leer dus om meer empatie teenoor ander te toon wanneer ons gereeld aan lees en boeke blootgestel word. Ons plaas onsself makliker in ander se skoene wanneer ons lees. Lees help ook om spanning te verlig en om saans aan die slaap te raak wat voordeliger is as skermtyd voor slaaptyd.

Indien leerders nie leesvaardighede ten volle bemeester het nie, kan hul struikelblokke ervaar. Die struikelblokke hoef nie permanent te wees nie, mits die leerders hulp kry. Voorbeelde van struikelblokke wat kan voorkom sluit in:

Leerders wat sukkel om die verskillende klanke in woorde te hoor (fonologiese en fonemiese bewustheid), kan ouditiewe en visuele persepsie-oefeninge doen. Onderwysers en ouers kan ook woordbou-speletjies met dié leerders speel.

Leerders kan woorde in ’n leesstuk oorslaan, omdat hulle nie die woorde ken nie. Indien jy sien ’n leerder slaan woorde oor, vra vrae oor wat hul gelees het en lei die leerder so om die betekenis af te lei. Leerders se oë kan terugspring na dit wat hulle reeds gelees het, maak dus seker dat die leerder ’n kartonstrook met ’n venstertjie het wat hul dan aanskuif soos hul lees

In graad 1–3 leer leerders om te lees, van graad 4 af maak hul gebruik van lees om te leer. Lees speel ’n integrale rol in ons lewe, dus is dit belangrik dat onderwysers en ouers saam moet werk om die leerder optimaal te ontwikkel. Tydens skooltyd moet onderwysers genoeg tyd toelaat vir lees in die klaskamer. Ouers moet ook hul kinders blootstel aan boeke by die huis soos om van kleins af saam met hul kinders te lees. Indien almal saamwerk en lees saam geniet, kan struikelblokke voorkom word.

“Lees gee ons ’n plek om heen te gaan wanneer ons op een plek moet bly.” – Mason Cooley

**Yolandi van der Merwe is al vir die afgelope drie jaar ’n dosent in Afrikaanse Huistaalonderrig vir grondslagleerders by die onderwysinstelling Aros.

Soortgelyke plasings