| | |

#AfriForumStaanSaam vir skole: AfriForum skenk hulppakkette aan skole in Oos-Kaap

Die AfriForum-takke in die Oos-Kaap het 10 hulppakkette aan skole in dié provinsie versprei as deel van die #AfriForumStaanSaam vir Skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Die skolehulppakkette bevat COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders. Die waarde van elke pakket beloop R6 500.

In Port Elizabeth is pakkette aan Laerskool Lorraine, Laerskool Charlo, Laerskool Nanaga, Moregrove Primary School, Merryvale School, Quest School en Westview Skool geskenk. In Oos-Londen is Hudson Park Primary School en Laerskool Nahoon met só ’n pakket gehelp; HTS Daniel Pienaar in Uitenhage het ook ’n skolehulppakket ontvang.

“Dit is werklik ’n voorreg om in ’n krisistyd soos hierdie uit te reik na ons skole en ons bydrae te lewer om skole in hierdie tyd by te staan om seker te maak dat hulle voorbereid is om die 2020 akademiese jaar voort te sit. Skole het nie vir hierdie ekstra uitgawes begroot nie en daar word oral geraap en geskraap om die veiligheid van leerders te verseker. AfriForum het geweldig baie aansoeke vir hulp van skole ontvang aangesien skole onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het,” sê Arno Greyling, AfriForum se Distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum het landwyd reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole versprei.

AfriForum se takke in die Oos-Kaap moedig gemeenskappe daarom aan om by dié inisiatief betrokke te raak: SMS jou naam na 32078 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings