| |

Lichtenburg-tak fnuik plunderaars se planne

Die AfriForum-buurtwag in Lichtenburg het Donderdag (23 Mei) verhoed dat ’n groep ontstoke gemeenskapslede winkels aan die hoek van Beyers Naudé-rylaan en Vyfde Laan plunder. Dít nadat die einste groep van sowat 20 mense glo reeds ’n huis in die gebied geplunder het om wraak te neem op ’n mesaanval wat die vorige dag plaasgevind het.

Die buurtwag het om 09:00 ’n oproep ontvang dat ’n groep mense beplan om winkels in die omgewing te plunder. AfriForum het onmiddellik gereageer en saam met ander sekuriteitsmaatskappye en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) na die toneel gehaas. Sewe AfriForum-buurtwaglede het opgeruk om die gebied te beveilig.

Met die buurtwag se aankoms op die toneel het die groep se gemoedere hoog geloop en het hulle geweier om hul planne om die winkels te plunder, te laat vaar. Die betrokke veiligheidstrukture wou egter vinnig die situasie ontlont. Carel Pauly, operasionele leier van AfriForum se Lichtenburg-buurtwag, het met die leier van die groep probeer praat, maar die man het Pauly met ’n mes gedreig. Die AfriForum-span het vinnig opgetree en die aanvaller met pepersproei geneutraliseer en die mes van hom af geneem. Daarna is hy in boeie geslaan en deur die polisie in hegtenis geneem.

Die AfriForum-buurtwag het kort daarna die groep oortuig om hul planne te laat vaar. Geen verdere inhegtenisnemings is gemaak nie. Volgens inligting wat aan die buurtwag oorgedra is, het die groep vroeër die dag wraak geneem op die huis van die persoon wie hulle beweer die groepleier se broer die vorige dag met ’n mes aangeval het. Dit is toe dat hulle uit woede ondernemings in die gebied ook wou teiken. Die polisie ondersoek beide dié voorvalle verder.

“Die situasie kon maklik handuit geruk het as daar nie vinnig opgetree is nie, daarom wil ons graag die hele gemeenskap bedank vir hul ondersteuning en samewerking in hierdie verband. Dit is deur ons kollektiewe pogings dat ons Lichtenburg veiliger maak,” sê David Fourie, leier van AfriForum se Lichtenburg-buurtwag.

Pauly sê hy is trots op die buurtwag se vinnige en doeltreffende optrede om die situasie te ontlont. “Die veiligheid van die gemeenskap is ons prioriteit, en hierdie voorval beklemtoon die belangrikheid van samewerking tussen buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en die polisie.”

Kontak Fourie by 079 456 5426 of Pauly by 071 339 6180 om by AfriForum se Lichtenburg-tak en -buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings