|

AfriForum se Hoogland-buurtwagte hou nasionale patrollie

Die AfriForum-buurtwagte in die Oos-Vrystaat het op 14 April deelgeneem aan ’n nasionale patrollie in hul onderskeie gebiede om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, die nooddienste, verskeie sekuriteitsmaatskappye, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en ander veiligheidsinstansies uitgevoer. Die patrollie het omstreeks 20:00 begin en tot 08:00 die volgende oggend geduur.

Altesaam 44 AfriForum-lede en 31 rolspelers van ander instansies het aan die patrollie deelgeneem en 1 242 km in 42 voertuie afgelê. Die volgende buurtwagte het aan die nasionale patrollie deelgeneem: Bethlehem, Bultfontein, Winburg, Harrismith, Steynsrus, Ventersburg, Odendaalsrus en die Welkom-distrik.

Die buurtwagte het hulp met verskeie voorvalle verleen. Hulle het onder meer die polisie ontbied om ’n dronk persoon van die straat te verwyder.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Hoogland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies hou in samewerking met die SAPD en verskeie sekuriteitsdienste om misdaad te bekamp. Ons nooi alle lede uit om deel te word van hierdie dinamiese spanne. Opleiding word voorsien om ons lede met die regte kennis te bemagtig, terwyl hulle ook met die nodige toerusting toegerus word,” sê Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak, sluit aan by www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings