|

Life Esidimeni-GDO: Privaatvervolgingseenheid kruisondervra voormalige adjunkdirekteur in beheer van nieregeringsorganisasie

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag vir Hanna Jacobus, die voormalige adjunkdirekteur in beheer van nieregeringsorganisasies by die Departement van Gesondheid, gekruisondervra in die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die Life Esidimeni-tragedie. Tydens die kruisondervraging het adv. Vorster dit aan Jacobus gestel dat sy lisensies uitgereik het vir nieregeringsorganisasies wat nié voldoen het aan standaarde om na pasiënte om te sien nie en ook dat sy op verskeie geleenthede nie korrekte prosedure gevolg het nie deurdat daar geen diensleweringsooreenkomste of begrotings in plek was vir die behoorlike versorging van die pasiënte nie.

Dit het ook uit adv. Vorster se ondervraging geblyk dat Jacobus, as adjunkdirekteur in beheer van die nieregeringsorganisasies, meer besorg was oor die kontrakte vir die voorsiening van linne aan hierdie organisasies as oor die pasiënte self.

Dit het tydens Jacobus se kruisondervraging geblyk dat sy bewus was van die feit dat daar by ten minste een van die nieregeringsorganisasies geen geregistreerde dokters of verpleegsters was nie. Jacobus het verder getuig dat sy niks gedoen het om die personeeltekorte waarvan sy bewus was by van die nieregeringsorganisasies reg te stel nie, omdat sy op haar besoeke aan hierdie fasiliteite nie gegaan het om inspeksies te doen nie, maar bystand te bied met betrekking tot “uitdagende” pasiënte. Jacobus het ook getuig dat sy nie verantwoordelikheid kan neem vir die toestand waarin die pasiënte hulle bevind het nie en het, op ’n vraag van adv. Vorster, getuig dat sy nie weet wie vir hulle verantwoordelikheid moes geneem het nie. Dit ten spyte van die feit dat sy in beheer was van die kontrakte met die nieregeringsorganisasies waarheen pasiënte verplaas is.

“Dit is reeds vyf jaar sedert die regering hierdie weerlose mense versaak het. Daar is egter nog geen vervolging nie en dit blyk vanuit die getuienis in hierdie GDO dat niemand bereid is om aanspreeklikheid te aanvaar vir hierdie totale gebrek aan respek vir menswaardigheid en menselewens nie. AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om aan hierdie GDO deel te neem om te verseker dat diegene wat hul pligte versaak het en uiteindelik die dood van sowat 144 mense veroorsaak het, verantwoordbaar gehou word,” sê Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum.

  • Die Gautengse Departement van Gesondheid het tydens 2016 ongeveer 144 psigiatriese pasiënte van Life Esidimeni na verskeie nieregeringsorganisasies geskuif ten einde onder meer geld te spaar. Dít ten spyte van bewyse dat verskeie fasiliteite ongeskik was vir menslike verblyf, asook waarskuwings van kenners dat die pasiënte nié geskuif moes word nie.
  • Solidariteit Helpende Hand en AfriForum se privaatvervolgingseenheid staan tans vir Sandra de Villiers by in die geregtelike doodsondersoek (GDO) na die dood van haar broer, Jaco Stols, in 2016 tydens die Life Esidimeni-tragedie. Adv. Vorster en Wico Swanepoel, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag aangestel om De Villiers namens Solidariteit Helpende Hand tydens die GDO by te staan.

Soortgelyke plasings