Elektrisiteit
|

Ligte af, maar tariewe moet op, sê Eskom

Terwyl Suid-Afrika tans gebuk gaan onder beurtkrag, het Eskom ’n tariefaansoek ingedien om die kragtarief met 32,66% te verhoog. Boonop wil Eskom hê dat verbruikers wat sonkragopwekkingsvermoë het meer moet betaal as gewone kragverbruikers.

AfriForum het ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa, Gwede Mantashe, die minister van Minerale Hulpbronne en Energiesake, en Nomalanga Sithole, die uitvoerende hoof van die Nasionale Energiereguleerder (Nersa), gestuur vir stappe wat geïmplimenteer kan word om verligting aan die kragsektor te bring.

Nersa behoort ’n kernrol te speel om verligting aan landsburgers te bring en moet enige lisensiehouer aanspreek wat nie aan wetgewing voldoen nie. Ons sien wel dat dit nie die geval is nie en die minister behoort pa te staan vir die mislukkings van Nersa om die energiesektor gesond te hou.

“Dit is Eskom se onvermoë wat mense dwing om na alternatiewe kragopwekkingsmetodes te kyk en nou moet dieselfde mense daaroor beboet word. Eskom wil hê verbruikers moet vir krag betaal wat hulle tans nie eers kry nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

Broodryk is van mening dat ’n gedesentraliseerde netwerk ’n oplossing is vir die kragkrisis wat Suid-Afrikaners tans beleef. Indien Nersa ’n metodevoorstel implementeer wat die vrye handel van krag tussen verbruikers reguleer, kan dit binne ’n kort tyd baie genereringsvermoë op die netwerk verseker. “Só ’n oplossing sal nie net opwekkingsvermoë vergroot nie, maar kan veroorsaak dat verbruikers waarskynlik krag goedkoper van hul buurman kan koop, selfs al is daar ’n vorm van vergoeding wat aan die netwerk betaalbaar is,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings