|

Lydenburg-tak gee “rigting” met ’n rits nuwe straatnaamborde

’n Totaal van 26 nuwe straatnaamborde wat in Februarie opgerig is, is tekenend van die nuwe rigting waarin AfriForum se Lydenburg-tak dié dorp in die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit wil lei. Voortslepende verval in hierdie munisipaliteit het die Lydenburg-tak genoop om op hierdie praktiese manier in te gryp en self die agteruitgang hier te takel.

Volgens Erich Venter, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak, is die 26 straatnaamborde opgerig om weer 13 verskillende strate tussen Eeufeesstraat, Voortrekkerweg en die treinspoor duidelik en akkuraat te merk. Mashishing (voorheen bekend as Lydenburg) is ’n belangrike sakesentrum in die gebied en ’n gewilde toeristebestemming of deurgangspunt vir toeriste. Juis daarom is akkurate rigtingwysers ’n noodsaaklike komponent vir hierdie dorp, benadruk Venter.

“Die Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit se basiese dienslewering is op ’n algehele laagtepunt en eenvoudige instandhouding, soos dié van straatnaamborde, word lank reeds nie meer gedoen nie. Ons weier egter om hierdie verval goedsmoeds te aanvaar en daarom sal AfriForum voortgaan om die leemtes wat swak munisipale bestuur laat, te vul,” sê Venter.

Benewens die straatnaamprojek, sit dié plaaslike tak ook steeds sy donasie aan die Lydenburg Sakekamer voort. Deur middel van hierdie donasie maak die tak ’n volhoubare bydrae aan die sakekamer se maandelikse skoonmaakprojek.  

Die gemeenskap word uitgenooi om by die Lydenburg-tak betrokke te raak en sodoende ’n daadwerklike verskil in dié dorp te maak.

Soortgelyke plasings