| |

MASSAPATROLLIES OP N4 LAAT MOTORISTE VEILIGER REIS

Die AfriForum-buurtwagte in Mpumalanga het op Vrydag 28 Mei ’n massapatrollie op die N4-snelweg tussen Middelburg en Malalane gery. Dié buurtwagte was genoop om in te gryp nadat ’n toename van skerp voorwerpe wat oor die pad gegooi word – oftewel “spiking” – die afgelope drie weke opgemerk is.

Die AfriForum-buurtwagte in Middelburg, Dullstroom, Machadodorp, Nelspruit, Witrivier en Malalane het saamgewerk en die patrollie gelyktydig begin. Meer as 50 voertuie het sowel statiese as mobiele patrollies gery. Verskeie sekuriteitsmaatskappye, plaaslike buurtwagte en die SAPD het aan die massapatrollie deelgeneem.

Geen insidente is deur die nag op hierdie deel van die N4 aangemeld nie.

“Ons ry patrollies soos hierdie om die roete vir toeriste en inwoners van die Laeveld veiliger te maak. Ons kan nie net staan en toekyk hoe ons mense se lewens nag ná nag bedreig word nie,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Laeveld.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die buurtwagte betrokke te raak en deel van ’n veilige toekoms te word. SMS jou naam na 45340 en sluit by AfriForum aan.

Soortgelyke plasings