|

Rustenburg-tak gaan voort met volhoubare skoonmaakprojek

Die AfriForum-tak in Rustenburg het hul volhoubare skoonmaakprojek in Junie voortgesit en 3,5 ha gras gesny. Die gebied rondom die burgersentrum en die veld in Pendoringstraat is skoongemaak. Daar is agt vragte tuinvullis en rommel weggery.

“Die veld in Pendoringstraat word gebruik vir onwettige vullisstorting en is ’n skuilplek vir misdadigers. Daar is verskeie toerusting, waaronder televisies, yskaste en ander elektronika, in dié veld gevind wat aan die SAPD oorhandig is. Met die skoonmaakprojek elimineer ons alle skuilplek vir misdadigers en poog om hulle uit die gemeenskap te dryf,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Die Rustenburg-tak het hul volhoubare skoonmaakprojek in Januarie 2022 begin en ná die afgelope paar maande se harde werk, is daar reeds ’n duidelike verskil in hierdie dorp. Die tak vra die gemeenskap om betrokke te raak by hierdie skoonmaakprojek deur handearbeid te verleen of ’n donasie te maak. AfriForum se Rustenburg-tak wil ook Sebetsa Trading bedank wat in Junie brandstof geskenk het vir die gebruik van die bossiekappers.

Word vandag nog deel van die oplossing en sluit aan by AfriForum se Rustenburg-tak: SMS “Rustenburg” na 45344 (R1) of skakel vir Dawie Conradie by 082 930 9905.

Soortgelyke plasings