Mbalula meen polisievuurwapens word vir geweldsmisdaad gebruik – AfriForum


Luidens inligting wat deur Fikile Mbalula, polisieminister, aan die burgerregtewaghond AfriForum verskaf is, dui ondersoeke daarop dat verlore en gesteelde polisiewapens in gewelds- en ernstige misdaad gebruik word. Die inligting dui verder daarop dat die polisie landwyd sowat 7829 polisievuurwapens tussen 2009 en 2014 verloor het.
Hierdie syfers sluit egter nie vuurwapens in wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in veilige bewaring en as bewysstukke moes stoor nie, maar weerspieël slegs dié in die polisie se bateregister. AfriForum het ook eersgenoemde syfers aangevra, maar dit is nie verskaf nie.
Volgens Ian Cameron, AfriForum se veiligheidshoof, konsulteer die organisasie tans met sy regspan oor verdere stappe wat gedoen kan word om hierdie inligting te bekom, aangesien die redes vir die weerhouding daarvan onvoldoende is.
Die Noord-Gautengse hoë hof het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wet no. 2 van 2000) (PAIA) wat AfriForum teen die SAPD gebring het in Mei 2017, na die polisie terugverwys. Ingevolge hierdie bevel moes die polisie binne 60 dae die versoekte inligting aan AfriForum verskaf of wesenlike redes gee waarom hulle dit nié kan doen nie. Die aansoek het onder meer versoek dat die polisie moes bekend maak hoeveel staatsgeregistreerde vuurwapens volgens die polisiebateregister sowel as die sentrale vuurwapenregister tussen 2009 en 2014 gesteel, verloor of teruggevind is.

“Die bekendmaking van hierdie syfers is in openbare belang en die feit dat minister Mbalula erken dat verlore polisievuurwapens vir hierdie tipe misdade gebruik word, is ’n bevestiging hiervan. Meer as 18 000 mense is vanjaar reeds in die land vermoor en dit is tyd dat die regering dringend ingryp,” sê Cameron.
“AfriForum gaan die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) met hierdie syfers versoek om ondersoek in te stel na die polisie se nalatige hantering van vuurwapens, wat ’n groot oorsaak van geweldsmisdaad in die land is,” sê Hein Gonzales, risiko- en ondersteuningsbestuurder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Die regter het ook beveel dat die polisie AfriForum se regskostes teen prokureur/kliënt-skaal moet dek.

Soortgelyke plasings