|

Midvaal-buurtwag ontvang veiligheidsopleiding

AfriForum het op 9 Junie die eerste van ’n reeks veiligheidsopleidingsessies aan 25 lede van sy nuutgestigte Midvaal-buurtwag aangebied. Dié buurtwag is vanjaar op 31 Mei gestig en die opleiding is deur Stephanus Blignault, distrikskoördineerder vir die Wes-Rand, behartig. Gedurende hierdie sessie het die buurtwaglede ook patrollietoerusting ontvang.

Dié opleiding het gefokus op die verskillende tipes patrollies, die versameling van inligting en die noukeurige beplanning van patrollies en operasies. Hierdie opleiding is een van verskeie modules wat AfriForum aan hul buurtwaglede verskaf.

Onder meer bestaan die patrollietoerusting uit veiligheids-, en koëlvastebaadjies, kolligte, noodhulpsakke, voertuigmagnete, kegels en pepergas. Hierdie toerusting help die lede om sigbaar en maklik uitkenbaar vir lede van die publiek te wees. Dié tak beplan om die buurtwaglede later ook met tweerigtingradio’s toe te rus.

“Dit is belangrik dat AfriForum hul buurtwagte goed oplei en van toerusting voorsien sodat hulle patrollies doeltreffend kan uitvoer om sodoende ’n verskil in hul gemeenskappe te kan maak,” sê Blignault.

Indien jy by dié tak of buurtwag betrokke wil raak stuur ’n WhatsApp na 072 771 9081.

Soortgelyke plasings