|

Motorkapers loop hulle in Brits-buurtwag vas

AfriForum se Brits-buurtwag het op 3 Maart omstreeks 17:58 inligting oor ’n motorkaping ontvang wat by ’n drierigtingstop in Sonop in ’n skietery ontaard het. AfriForum se Brits-protospan en reaksielede het hul onmiddellik na die toneel gehaas en beheer van die situasie geneem.

Volgens inligting van die buurtwaglede, is ’n wit Nissan NP300 Hardbody deur twee gewapende verdagtes gekaap. Daarna is die bestuurder van die voertuig asook die passasier ontvoer en van hulle geld, selfone en beursies beroof. Die twee verdagtes het die voertuig op ’n grondpad agtergelaat en in ’n swart BMW op die vlug geslaan. Die Brits-polisie en Secure Guarding het die BMW in ’n jaagtog agternagesit. Die verdagtes het spoed verminder, uit die BMW gespring en in die nabygeleë veld ingehardloop waarna die Mooinooi-polisie die verdagtes te voet gevolg het. Die drie verdagtes is vasgetrek, gearresteer en twee voertuie is gekonfiskeer.

’n Lid van die publiek het agter die Nissan NP300 in ’n Toyota Land Cruiser gery toe die Nissan gekaap is. Eers toe dit te laat was het die bestuurder van die Land Cruiser besef wat aan die gang is. Twee van dié drie insittendes is tydens die skietery gewond en is onmiddellik na die Mediclinic Brits vir behandeling geneem.

“Dié buurtwag veroordeel hierdie wreedheid en wil ons meegevoel aan die slagoffers en hul families oordra. Ons is dankbaar vir die dapperheid van ons protospan en reaksielede, die plaaslike polisie en Secure Guarding wat die gekaapte voertuig opgespoor het en gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) wat onmiddellik ontplooi is en hulp verleen het. Dié spanpoging het tot die arrestasie van al drie verdagtes gelei,” Sê Stephan Roos, voorsitter van die Brits-tak.

“Dit is belangrik dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander plaaslike rolspelers saam met ons werk om almal se veiligheid te verseker. Hierdie gesamentlike operasionele optrede het bewys hoe suksesvol misdaad bekamp kán word. Daarom bedank ons GPF, Brits-, Mooinooi-polisie en Secure Guarding. Ons sal aanhou om saam met die polisie en ander belanghebbendes te werk om sodoende ’n veiliger gemeenskap vir almal te skep. Ons vra dat inwoners waaksaam bly en verdagte aktiwiteite aan die buurtpatrollie, of die plaaslike polisie rapporteer.” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

Om by die Brits-buurtwag aan te sluit skakel vir Johan de Klerk by 082 415 0987. Dié tak moedig die gemeenskap aan om vandag nog betrokke te raak en deel van die oplossing te word: SMS “Brits” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings