|

Naboomspruit-buurtwag neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwag in Mookgophong, het oor die naweek aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Op 14 April het die Naboomspruit-buurtwag aan dié landswye operasie deelgeneem om sigbaarheid te verhoog, te handhaaf en nasionale kommunikasienetwerke en sinkronisasie in te oefen. Die buurtwag het saam met ander veiligheidsinstansies, sekuriteitsmaatskappye en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die patrollie uitgevoer. Hierdie operasie het tussen Vrydagaand om 18:00 en die volgende oggend om 06:00 plaasgevind.

Agt lede van AfriForum se Naboomspruit-buurtwag het deelgeneem terwyl vier voertuie van dié buurtwag en ander veiligheidsinstansies 200 km afgelê het.

Die hoofdoel was om sigbaarheid van veiligheidstrukture in gemeenskappe te verhoog. Hulpmiddels soos veiligheidsbaadjies, magnete en dakligte vir voertuie en flitsligte het hierdie doelwit bewaarheid. Nasionale sinkronisasie en skakeling met al AfriForum se buurtwagte wat landswyd deelgeneem het, is deur die AfriForum beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga moontlik gemaak. Die buurtwaglede kon op ’n Telegram-groep die presiese ligging sien van almal wat deelgeneem het.

“Dankie aan al die buurtwaglede vir julle onbaatsugtige diens. Hierdeur neem gemeenskappe, professioneel, gedissiplineerd en binne die raamwerk van die wet eienaarskap van hulle eie veiligheid. Ons skakeling en sinkronisasie op ’n nasionale vlak is ons wapens teen misdaad. ’n Gemeenskap wat sigbaar paraat is en saamwerk, sorg vir ’n veiliger omgewing,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings