|

Marble Hall-buurtwag neem aan nasionale patrollie deel

AfriForum se buurtwag in Marble Hall het verlede naweek aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Op 14 April het die buurtwag aan dié landswye operasie deelgeneem om sigbaarheid te verhoog, te handhaaf en nasionale kommunikasienetwerke en sinkronisasie in te oefen. Hulle het hande gevat met ander veiligheidsinstansies, sekuriteitmaatskappye  en die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die patrollie het omstreeks 18:00 die Vrydagaand begin en tot 06:00 die Saterdagoggend geduur.

Agt lede van die Marble Hall-buurtwag het deelgeneem en 200 km is in vier voertuie saam met ander veiligheidsinstansies afgelê.

Die hoofdoel was om die sigbaarheid van veiligheidstrukture op te skerp. Veiligheidsbaadjies, plakkers en dakligte vir voertuie sowel as flitsligte het gesorg dat hierdie doelwit bereik is. Skakeling met buurtwagte wat landswyd deelgeneem het is moontlik gemaak deur die AfriForum se beheerkamer vir Gauteng, Limpopo en Mpumalanga. Deur middel van die Telegram-groep vir Limpopo kon die betrokke partye die presiese ligging sien van almal wat deelgeneem het.

“Ek wil graag die buurtwaglede bedank vir hulle onbaatsugtige diens. Ons sien hierdeur hoe gemeenskappe, professioneel, gedissiplineerd – binne die raamwerk van die wet –  eienaarskap neem van hulle eie veiligheid en doelgerig ’n samewerkingsnetwerk vestig om hulle voorspoedige voortbestaan te verseker. Ons belangrikste wapen is ons skakeling en sinkronisasie op ’n nasionale vlak. Kriminele vermy ’n gemeenskap wat paraat is en saamwerk,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak.

Soortgelyke plasings