|

Nelspruit-, Witrivier- en Malelane-buurtwagte help tydens Laeveld-onrus

Die AfriForum-buurtwagte in Nelspruit, Witrivier en Malelane het verlede week ’n kardinale rol gespeel in die beveiliging van gemeenskappe en die deurvoer van inligting tydens die onluste in die Laeveld.

Die buurtwaglede het menigte patrollies gery om inligting in te samel en om paaie te help oopmaak wat deur protesgangers geblokkeer was. ’n Lid van die publiek, wat deur protesgangers aangerand is, is ook bygestaan. Deur samewerking met verskeie ander sekuriteitsorganisasies en veiligheidsgroepe, is die situasie in die Laeveld goed gemonitor en tot so ’n mate in bedwang gehou dat geen verdere eskalasie en beskadiging aan infrastruktuur en eiendom plaasgevind het nie.

Die Lowveld Security Joint Operation Command het ’n belangrike rol gespeel om alle rolspelers in die gemeenskap byeen te bring om sodoende korrekte inligting op ’n effektiewe manier in te win en te versprei.

“Ons bedank graag elke liewe buurtwaglid, lede van die publiek en sekuriteitsmaatskappye wat gedurende die onluste gehelp het. Dit is ’n voorreg om deel te vorm van ’n gemeenskap wat kan saamstaan en hierdie is net weereens ’n bewys dat dit belangrik is om aan ’n struktuur te behoort,” se Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineer vir die Laeveld.

AfriForum se buurtwagstrukture bedank graag die volgende sekuriteitsmaatskappye en instansies wat verlede week hard gewerk het om die situasie in die Laeveld so veilig moontlik te hou: Hi-Tech Nelspruit, Fidelity SIU, ACS Security, Divergent Ops, Taysec Security, Lowveld Tracking, Naspoti Security Solutions, Securicon Nelspruit, Bossies Community Justice, Nelspruit Concerned Citizens, AfriForum se Nelspruit-tak, SRRS, Urban Africa, i-Secure en Nkomazi Security Solutions.

AfriForum se buurtwagte in die Laeveld nooi graag lede van die publiek uit om betrokke te raak by die plaaslike buurtwagstrukture: SMS “Buurtwag” na 45353 (R1).

Soortgelyke plasings