|

Bloemfontein-takke loods vier nuwe projekte

AfriForum se Bloemfontein-takke het die nuwe jaar op ’n hoë noot begin deur vier nuwe volhoubaarheidsaksies in Bloemfontein te begin.

Dié nuwe projekte fokus op Du Plessisstraat in Langenhovenpark en ’n groot gedeelte van Nelson Mandelarylaan, Curielaan sowel as die parkie in Gardeniapark in Orchidstraat.

Saam met hierdie aksies is die Bloemfontein-takke deurlopend besig om ook die Ou Presidensie, Brits-monument en President Brand-begraafplaas se tuine in stand te hou. Verder gaan dié takke met hul volhoubare vullisverwydering-inisiatief voort waarby die publiek kan aansluit om hul vullis te laat verwyder.

“AfriForum se Bloemfontein-takke is trots daarop om Bloemfontein skoon te hou en ons erfenis te beskerming met die instandhouding van verskeie historiese monumente. Hierdie aksies dra ook by tot die bevordering van veiligheid in ons gemeenskappe aangesien swak instandhouding misdadigers die geleentheid kan gee om in beboste velde weg te kruip,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van Bloemfontein.

“Ons is dankbaar vir ondernemings en lede van die gemeenskap wat help om Bloemfontein skoner en veiliger te maak. Ons sal graag meer projekte wil aanpak en moedig ondernemings aan om ons te kontak indien hulle soortgelyke inisiatiewe wil ondersteun,” sê Groenewald.

AfriForum se vullisverwyderingsdienste is op 1 September 2020 geloods omdat die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit versuim het om hierdie basiese diens te verrig. Talle AfriForum-lede sowel as nielede maak reeds van hierdie vullisverwyderingsdiens gebruik. Lede van die gemeenskap word aangemoedig om aan te sluit sodat hul gemoedsrus kan hê en weet dat hul vullis betyds verwyder sal word.

Vir meer inligting kontak Christo Groenewald by christo.groenewald@afriforum.co.za.

Volg gerus hierdie skakel om by AfriForum se vullisverwyderingsdienste aan te sluit.

SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit en saam hoop te skep.

Soortgelyke plasings