|

Nuuskommentaar: Hlophe as lid van RDK is om wolf as skaapwagter aan te stel

AfriForum het omtrent ’n week gelede met regstappe begin om ’n stokkie te steek voor die Nasionale Vergadering (NV) se besluit om dr. John Hlophe, leier van die MK-party in die NV, as lid van die Regterlike Dienskommissie (RDK) aan te stel. Sedertdien het verskeie klagtes oor Hlophe se aanstelling  uit verskeie oorde, insluitend van die DA, ingestroom.

Hlophe is aangestel as ’n lid van die RDK – die einste liggaam wat destyds sy optrede as growwe wangedrag bestempel het wat daartoe gelei het dat hy as regter onthef is. Hy het twee regters van die Konstitutisonele Hof probeer beïnvloed in sake waarby oudpres. Jacob Zuma betrokke was.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit ondenkbaar dat aspirant regters se etiek, integriteit en geskiktheid om as regter te dien, voortaan deur Hlophe as lid van die RDK beoordeel moet word. Dit terwyl Hlophe self vroeër deur die RDK ongeskik bevind is om as regter te dien vanweë sy oneerlikheid en growwe wangedrag.

“Dit is noodsaaklik dat AfriForum Hlophe se aanstelling in die hoogste hof beveg, omdat sy teenwoordigheid in die RDK die geloofwaardigheid en onafhanklikheid van die regbank ernstig kniehalter, terwyl dit ook die oppergesag van die reg ondermyn,” het Kriel gesê.

In AfriForum se hofstukke word daarop gewys dat die NV, kragtens artikel 165 van die Grondwet, ’n plig het om onder meer die howe by te staan en te beskerm om hul onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid te verseker. Hlophe se aanstelling is teenstrydig met die Grondwet en dui daarop dat die NV eintlik sy grondwetlike plig versaak het.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Freedom Under Law (FUL) het intussen ook ’n dringende aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien om kapsie teen Hlophe se aanstelling te maak. FUL meen soos AfriForum dat Hlophe se aanstelling ongrondwetlik en onregmatig was deurdat dit nie die onafhanklikheid van die regbank in oorweging neem nie.

Hlophe behoort summier verbied te word om op die RDK te dien, maar daar is natuurlik toutjies wat agter die skerms getrek word en as ’n mens kyk na wie gehelp het om hom verkies te kry raak die prentjie duideliker. Hy is met die hulp van die MKP en EFF tot die RDK verkies. Zuma was natuurlik in aanloop tot die verkiesing die gesig van die MKP en alhoewel hy vir nou op vrye voet is, is daar steeds dreigende hofsake wat hom nog groot hoofpyne kan veroorsaak. Hlophe kan as lid van die RDK weereens probeer om die rigting van Zuma se hofsake te stuur en om hom so uit die tronk te hou. Wat die EFF se ondersteuning van Hlophe aanbetref is daar waarskynlik nou ’n paar gunsies aan hulle verskuldig of dalk is dit bloot Julius Malema wat Zuma wil help sodat die MRK hul steun aan die EFF sal gee.

Die RDK kan reeds in Oktober vanjaar onderhoude met voornemende regters voer en dit sal die publiek se vertroue in die regbank skend as Hlophe deel is van die span wat die besluite neem. AfriForum voer aan dat die saak dringend is en direk voor die Konstitusionele Hof gebring kan word.

Hopelik kan geregtigheid in hierdie geval geskiet sodat die geloofwaardigheid van die RDK behoue kan bly.

Soortgelyke plasings