|

Nuwe kamera hou oog oor Upington

AfriForum se Upington-tak het einde Mei hul heel eerste LPR-kamera in Upington opgerig. Hierdie kamera herken nommerplate deur kruisverwysing van sowel ’n plaaslike as internasionale databasis.

Hierdie kamera is opgerig as deel van hul doelwit om Upington en die hoofroetes veiliger te hou. Die Upington-tak is al vir ’n geruime tyd besig met die kameraprojek en is dankbaar om fase 1 van stapel te stuur. Hierdie projek is uiters belangrik vir die gemeenskap en dit is net een van vele maniere waarop AfriForum-buurtwagte misdaad help bekamp.

“Dit is van kardinale belang om Upington en die gemeenskap met ’n kamerastelsel soos dié te beveilig,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

“Hierdie is maar net die begin – ons beplan om nóg van die LPR-kameras in die Upington-omgewing op te rig. Ek wil graag ook die gemeenskap aanmoedig om betrokke te raak by inisiatiewe soos hierdie,” sluit Strauss af.

Raak betrokke by AfriForum om ’n verskil te maak: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings