|

Nuwe Victoriabaai-buurtwag slaggereed om misdaad te takel

Die nuwe Victoriabaai-buurtwag wat deur AfriForum se George-tak op die been gebring is, is slaggereed om misdaad in hierdie prentjiemooi kusdorp en die omliggende gebied te takel.

Hierdie buurtwag, wat in November gestig is, vorm deel van die George-tak en het ten doel om veiligheid in dié gemeenskap, in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander plaaslike veiligheidsinstansies, op te skerp.

Die nuutverkose buurtwagbestuur bestaan uit Gerhan Archer (buurtwagleier), PJ Maritz (operasionele spanleier), Patrick Rawlins (inligtingspanleier) en Mias Strauss (spanleier: steun).

Archer benadruk dat hy hierdie geleentheid om ’n verskil in Victoriabaai te maak, met albei hande aangryp. Volgens hom kan die beveiliging van ’n gebied nie in silo’s bedryf word nie en daarom sluit AfriForum se Victoriabaai-buurtwag aan by ’n uitgebreide netwerk van ander AfriForum-strukture.

“AfriForum glo daarin dat alle veiligheidsrolspelers saam aan ’n gemeenskaplike doel moet werk en daarom vat ons graag hande met die gemeenskappe in en om George om inwoners in die gebiede te beveilig,” verduidelik Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. “Gehalte opleiding van buurtwaglede is van kritieke belang om dié lede toe te rus met die nodige kennis om sodoende met selfvertroue te kan optree en om goeie besluitneming aan die dag te lê. Ons sal dus spoedig opleiding by dié nuwe buurtwag afskop,” sluit Erasmus af.

Soortgelyke plasings