|

Slagoffer getuig in aanrandingsaak teen Alexis Bizos

Die aanrandingsaak van Alexis Bizos, seun van gerespekteerde menseregteprokureur, adv. George Bizos, het vandag in die Johannesburgse Landdroshof voortgegaan. Sy vervreemde vrou, Monique van Oosterhout, het in haar getuienis beskryf hoe die beskuldigde haar na bewering in haar gesig geslaan het, haar rond gestamp en teen ‘n boekrak gegooi het en haar in die bors geslaan het wat tot ses gebreekte ribbes gelei het. Die saak word deur AfriForum se Privaatvervolgingseenheid gedryf. 

Bizos het Van Oosterhout na bewering in 2015 aangerand. Die NVG het aanvanklik geweier om hom te vervolg, maar ná AfriForum se aankondiging in 2018 dat die organisasie om ’n nolle prosequi-sertifikaat aansoek gedoen het, het die NVG ’n verrassende aankondiging gemaak om te vervolg. Bizos is daarna genooi om vertoë voor vervolging in te dien. By ontvangs van Bizos se vertoë het die NVG weereens geweier om die saak ter rolle te plaas, wat Van Oosterhout genoop het om weer om ’n sertifikaat aansoek te doen om Bizos privaat te vervolg.

Tydens haar hoofgetuienis, gelei deur adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se Privaatvervolgingsheid, het Van Oosterhout aan die hof vertel dat sy die aand van 16 Maart 2015, ná ’n woordewisseling met Bizos, hom in sy studeerkamer genader het. Sy voer aan dat die beskuldigde haar met die vuis in die gesig geslaan het nadat sy vlugtig met hom gepraat het. “Ek het op die grond geval en was gedisoriënteerd. Ek het swaar gevoel asof ek op die grond vasgegom was en nie kon opstaan nie,” het sy gesê. 

Van Oosterhout het verder beweer die aanval het voortgeduur – tot op die punt dat Bizos haar in die boekrak gestamp het, wat gelei het tot verskeie frakture wat later in ’n RTT-skandering geïdentifiseer is. Die klaer het aan die hof gesê dat sy ook hierdie kwessie met Bizos se familie probeer opper het, maar sy is geïgnoreer. 

Van Oosterhout het haar getuienis afgehandel. “Sewe jaar ná die voorval is ek verlig dat ek uiteindelik die geleentheid gekry het om my storie aan die hof te vertel. Ek wil AfriForum se Privaatvervolgingseenheid bedank dat hulle my ondersteun en verseker het dat hierdie aangeleentheid op die rol geplaas is,” het Van Oosterhout gesê.

Die beskuldigde het onskuldig gepleit, met verwysing na selfverdediging en gesê Van Oosterhout was die aggressor – ’n aantuiging wat sy ontken. Tydens kruisondervraging het die advokaat ’n weergawe aangebied wat teenstrydig was met die klaer s’n, maar sy het aan die hof gesê dit is heeltemal versin. 

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid sê, “Hierdie is nog ’n saak van geslagsgebaseerde geweld waarop die Privaatvervolgingseenheid fokus, weens die mislukking van die strafregstelsel om vroue en kinders te beskerm. Die eenheid sal daarop gefokus bly om sulke ongeregtighede aan te spreek en aanhou om slagoffers van misdaad te ondersteun.”

Die saak is tot Januarie 2023 uitgestel. 

Soortgelyke plasings