|

NVG gaan waarnemende regter vervolg vir seksuele aanranding ná privaatvervolgingseenheid ingryp

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het aangedui dat hulle ’n voormalige waarnemende regter gaan vervolg vir die beweerde seksuele aanranding van ’n vroulike advokaat wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader het. Dit volg nadat die privaatvervolgingseenheid in hierdie verband in Oktober 2021 vertoë aan adv. Andrew Chauke, die Direkteur van Openbare Vervolgings in Gauteng (DOV), gerig het omdat geen strafregtelike stappe tot op daardie stadium teen die regter gedoen is nie.

Die klaer het ook die Balieraad, die Johannesburgse Vereniging van Advokate en die Raad vir die Regspraktyk (LPC) genader, maar min tot geen ondersteuning vanaf hierdie professionele liggame ontvang, wat teleurstellend is.

Die voormalige waarnemende regter (wat ook genomineer is om voor die regterlike dienskommissie (RDK) te verskyn om as regter oorweeg te word) het, nadat die klaer klagtes teen hom gelê het, ’n saak van crimen injuria teen haar gemaak. Die NVG het egter aangedui dat hulle geen vervolging op grond van hierdie klag sal instel nie.

“Ons verwelkom die NVG se besluit om wel vervolging teen die voormalige waarnemende regter in te stel, omdat ons die dossier bestudeer het en daar volgens ons genoegsame bewyse is om te vervolg. Ons het ’n groeiende neiging by die NVG geïdentifiseer om eerder te weier om ingewikkelde sake te vervolg met die hoop dat die klagtes sal verdwyn en dit is betreurenswaardig dat ons weer eens in hierdie saak eers die NVG moes uitdaag om die regering se beloftes na te kom dat sake van geslagsgebaseerde geweld geprioritiseer sal word voordat die NVG kon insien dat hier ’n prima facie-saak is. Die privaatvervolgingseenheid sal die saak moniteer en voortgaan om die klaer by te staan,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Volgens adv. Nel is die klaer in die saak baie dapper en het sy besluit om vas te staan om hierdie tipe misdadige gedrag teen vroue te beveg. “Die advokaat het tydens konsultasie aan ons gesê dat vrouwees in Suid-Afrika ’n gevaarlike beroep geword het. Dit is waarom sy wil standpunt inneem en sodoende verseker dat ’n omgewing geskep word waar haar dogter, asook ander vroue gemaklik sal voel om ’n loopbaan na te jaag sonder om die slagoffers te word van ‘magtige’ en klaarblyklik onaantasbare mans, veral in die werkplek.”

Soortgelyke plasings