|

NWU tree as oorwinnaars uit die stryd in Dink of Sink debatskompetisie vir universiteite

In ’n spannende woordestryd het die debatspan van Noordwes-Universiteit (NWU) Saterdag, 2 April 2022 naelskraap gewen in die finale rondte van AfriForum se Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente. Die tema het gehandel daaroor of Britse imperialisme se invloed oorwegend goed of sleg was.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het agt deelnemende spanne van NWU, die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch, Akademia en De Goede Hoop Koshuis vanjaar in Maart weekliks aanlyn teen mekaar meegeding. Die vier beste spanne het Saterdag in Pretoria saamgetrek vir die laaste uitdunne en spannende finale stryd.

“Dit was weer eens ’n reusevoorreg vir AfriForum om hierdie kompetisie aan te bied en die spanne se entoesiasme en vaardigheid met woorde in Afrikaans te beleef. Ons bedank al die deelnemers en beoordelaars vir hulle betrokkenheid. Met hulle kennis van aktuele sake en woordvaardigheid is die spanne ’n voorbeeld vir almal. Ons hartlike gelukwense gaan aan die wenners. Vanjaar kon die kompetisie grotendeels teruggekeer na die formaat van voor 2020 en ons hoop dat dit teen 2023 net nog sterker en groter sal wees,” voeg Bailey by.

“Dit was vir ons ’n groot voorreg om weer studente te kon verwelkom om in persoon te debatteer. Diegene wat aan die kompetisie deelgeneem het, is werklik die room van hulle onderskeie kampusse en die spanne wat aan die afgelope naweek se finaal deelgeneem het, is die room van die room. Dit is bemoedigend om te sien hoe ons land se volgende leiers hier gekweek word en bemagtig word om in Afrikaans hulle sê te sê,” sê Daniël Eloff, hoofbeoordelaar van die kompetisie.

NWU se span het bestaan uit Louis Boshoff, Reuben Coetzer, Rian Retief en Jack Coetzer. Die span van Studenteplein 1 van die Universiteit van Stellenbosch (US) beklee die tweede plek en het bestaan uit Henri van der Westhuizen, Ernst Pieterse, Milda van Dyk en Adriaan van Wyk.

Henri van der Westhuizen (Studenteplein 1-span, US) is as die beste spreker aangewys. Die prys vir die beste taalgebruik het gegaan aan Ernst Pieterse (Studenteplein 1-span, US) en dié vir die beste navorsing aan Waldo Pienaar (Studenteplein 2-span, US).

Soortgelyke plasings