| |

Oppiefees-gangers veilig onder Benoni-tak se wakende oog

Die grootste Afrikaanse musiekfees in die Oos-Rand het die afgelope naweek (10 en 11 Mei) sonder probleme afgeloop, deels omdat die feesgangers deur AfriForum se Benoni-buurtwag beskerm is. Die buurtwag het in samewerking met ander rolspelers patrollies gedoen en streng toegangsbeheer by Oppifees se parkeerarea gehandhaaf. Dit terwyl duisende feesgangers na die vertonings van die mees prominente Afrikaanse kunstenaars gekyk het.

Die tak het ook die geleentheid gebruik om sy nuwe mobiele nommerplaatherkenningskameras in te span. Hierdie kameras het elke voertuig wat die feesterrein binnegegaan het se nommerplate geskandeer ten einde voertuie te identifiseer wat óf gesteel óf tydens misdade gebruik is. Die kameras is aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se databasis gekoppel en het die buurtwag gehelp om te verseker dat geen verdagte voertuie toegang tot die feesterrein verkry sonder die kennisname van AfriForum se Benoni-tak nie.

Tydens die fees het boosdoeners egter ongesiens by die terrein ingeglip en probeer om ’n feesganger se voertuig te steel. Die Benoni-tak se motorfiets-eenheid het vinnig gereageer en dié pogings gefnuik. Die verdagtes het op die vlug geslaan, maar die eienaar van die voertuig en die SAPD is kort daarna oor die voorval in kennis gestel.

Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, sê die Benoni-tak is trots daarop om hierdie gemeenskap te dien en veiligheid in Benoni en die res van die Oos-Rand te bevorder. Die gebruik van tegnologie, soos die nommerplaatherkenningskameras, is een van die vele maniere wat dié buurtwag misdaad bekamp.

“Ons is verheug om hierdie nuwe mobiele nommerplaatherkenningskameras, die Benoni-tak se bestaande netwerk van kameras en die beheerkamer te gebruik om die inwoners van Benoni te beskerm. Hierdie stuur ’n sterk boodskap aan misdadigers en het reeds gehelp om kriminele aktiwiteite af te weer,” sluit Ferreira af.

Die Benoni-tak doen ’n beroep op die gemeenskap en ondernemings in die gebied om betrokke te raak en deel te word van die tak se misdaadbekampingspogings. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings