|

Viljoenskroon-tak vergader met Moqhaka-munisipaliteit oor rioolkrisis

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 2 Augustus met adv. Mzwakhe Mofokeng, waarnemende bestuurder van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit, en betrokke munisipale amptenare vergader oor die rioolprobleem in dié dorp. Die vergadering het gespruit uit die jarelange rioolkwessie wat in Viljoenskroon heers en wat die plaaslike AfriForum-tak tans spook om dringend op te los.

Dit het uit die veradering geblyk dat Mofokeng erns maak met die situasie. ’n Ingenieur, wat voorheen by die munisipaliteit werksaam was en die omstandighede ken, is aangestel om die situasie met sy kundigheid te verbeter. Verder is daar ’n vloot van agt bakkies aangekoop vir die Departement van Water en Sanitasie om die klagte dat daar nie voertuie beskikbaar is om die werk te doen nie, die nek in te slaan.

Wat die rioolwerke betref, is daar reeds met herstelwerk aan die masjienerie begin en gaan dit al geleidelik beter. ’n Probleem wat in die toekoms aandag moet kry, is die feit dat die hele rioolnetwerk nie voldoende is vir die huidige bevolking in Viljoenskroon nie. Daar word ’n aansoek gebring vir fondse sodat daar in die toekoms daaraan aandag geskenk word, maar vir eers moet die bestaande netwerk in ’n goeie werkende toestand gebring word.

Wat die verskeie pompstasies en die netwerk van pype betref, is kontrakteurs aangestel om te help met die onderhoud, aangesien van die verouderde pype heeltemal ineengestort het. Die feit dat die grond deurdrenk is met riool, bemoeilik die werk en het vertraging tot gevolg omdat dit eers moet afdroog. Daar is ook poste geadverteer om vakante betrekkings, soos passers, te vul. Die verskillende pompstasies moet ook effektief beman word.

Die munisipaliteit het onderneem dat daar teen einde Augustus ’n merkbare verskil aan die huidige rioolsituasie in Viljoenskroon sal wees. Daar gaan dan weer ’n vergadering geskeduleer word, sodat die vordering gemeet kan word.

“Die AfriForum-tak in Viljoenskroon, wat verteenwoordigend is van die gemeenskap, is baie dankbaar dat daar daadwerklik iets aan hierdie haglike situasie gedoen word. Dit is baie beter om die situasie op te los tot voordeel van die hele gemeenskap as om hof toe te gaan. Ons het ook die munisipale bestuurder gevra dat die terrein van die rioolwerke netjies gemaak word, sodat die mense trots kan wees om daar te werk. Die werkers moet ook met die nodige toerusting toegerus word om hul werk te kan doen, maar dan moet hulle ook verantwoordelik gehou word vir die onderhoud van daardie toerusting. Ons sien uit daarna om die vordering dop te hou en is bly dat ons die saak op hierdie wyse kon hanteer. Ons sal egter steeds die rol van waghonde in ons gemeenskap bly vertolk,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by AfriForum betrokke te raak. SMS “Viljoenskroon” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings