|

Parys-tak rig dringende brief aan Eskom en Ngwathe Munisipaliteit oor kragkrisis

AfriForum het vanoggend ’n dringende brief aan Eskom en die Ngwathe Munisipaliteit gerig oor die kragkrisis waarin die inwoners van Parys hulle sedert gister bevind. Benewens die feit dat die inwoners reeds onder beurtkrag en die sogenaamde “smartiekrag”, wat ekstra beurtkrag is, gebuk gaan, het die hele kragstelsel weens verskeie probleme, gister totaal uitgeknikker. Weens die feit dat Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit reeds drie maande agterstallig is met hulle ooreengekome betaling aan Eskom, het Eskom geweier om die krag weer aan te skakel. AfriForum se Parys-tak voel dat dit onregverdig is teenoor gemeenskapslede wat wel vir hulle kragverbruik betaal.

Dié tak het ook ’n dringende vergadering met Eskom versoek om ’n volhoubare oplossing, soos alternatiewe kragvoorsiening, vir die probleem te vind.

Intussen het die munisipaliteit boodskappe aan elektrisiteitsverbruikers gestuur om hulle agterstallige rekeninge te vereffen, anders sal hulle krag binne 48 uur afgesny word. Aangesien die munisipaliteit se eie verordeninge bepaal dat ’n rekeninghouer, 14 dae voordat sy/haar krag afgesny word, skriftelik in kennis gestel moet word, het die Parys-tak ook aan die munisipaliteit ’n brief gerig om hulle te waarsku dat hulle dit wat hulle dreig om te doen, glad nie moet oorweeg nie. Dié tak sal die inwoners van Parys teen hierdie tipe uitbuiting beskerm.

“Dis skreiend dat inwoners van Parys, wat reeds vuisvoos is van die gebrek aan krag en water nog so gestraf moet word. Parys se inwoners het ook basiese regte en AfriForum se Parys-tak sal nie ophou voordat daar nie daaraan voldoen word nie. Die feit dat die munisipaliteit krag, wat daar nie eers is nie, binne 48 uur wil afsny, is belaglik. Dit toon hoe desperaat die munisipaliteit vir geld is en hoe swak hierdie munisipaliteit bestuur word,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

“Dit is kommerwekkend dat die munisipaliteit nie hulle eie verordeninge korrek implementeer nie. Dit is daarom krities dat AfriForum se Parys-tak ’n waghondfunksie op plaaslike regeringvlak toepas. Tweedens moet geskille soos hierdie wat tussen staatsorgane plaasvind, nie ’n negatiewe impak op die algemene publiek hê nie. Ons kan nie toelaat dat hierdie geskille tussen staatsorgane mense se basiese regte skend nie. Ons sal daarom die situasie in Parys moniteer en verdere stappe oorweeg indien nodig,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Soortgelyke plasings