|

AFRIFORUM JEUG-TAK IN HELDERBERGKOM BEDERF SOLIDARITEIT HELPENDE HAND ONS PLEK IN DIE STRAND

Die AfriForum Jeug-tak in die Helderbergkom het op Donderdag 3 Desember 2020 die Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand gehelp met hul Kersete en ook om die kinders besig te hou tot Kersvader kom kuier.

Daar is tans 104 kinders by dié nasorgsentrum, waarvan die meeste van die Kays Karavaanpark af kom. Daar is vrywilligers wat help met huiswerk en sorg deur die dag. Daar is drie groepe kinders wat vanaf hul skole vervoer word na die nasorgsentrum wat deur Ons Plek bestuur word.

“Wat my getref het, is die tannie in die kombuis se waardering en dankbaarheid toe sy ’n afdag kon kry en dat ons namens haar vir die kinders kon kos gee,” sê Zelda Nel, voorsitter van die AfriForum Jeug Helderbergkom-tak.

AfriForum se Helderbergkom-tak het altesaam 140 worsbroodjies gemaak en gehelp braai op die dag. Daarna het Kersvader kom kuier en geskenke uitgedeel wat ingesamel en toegedraai is deur onder andere die Silwer Valke-drafgroep, bejaarde dames uit Somerset-Wes en die plaaslike gemeenskap. Elke kind het twee geskenke ontvang.

“Ons werk sedert 2015 al nou met AfriForum saam – veral die Helderbergkom-tak. Ons is baie dankbaar vir hul bydraes en liefde vir ons kinders,” sê Joey Lötter, bestuurder van Ons Plek.

Die projek is moontlik gemaak deur AfriForum en AfriForum Jeug se Helderbergkom-tak, Solidariteit Helpende Hand Ons Plek, die Silwer Valke-drafgroep, die Spread-a-bread-groep uit Somerset-Wes en bydraes vanuit die Helderberg-gemeenskap.

Raak vandag nog by die jeugstrukture in jou gemeenskap betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos na petri.vanderwalt@afriforum.co.za  of SMS Jeug na 32687 (R1).

Soortgelyke plasings