|

Plaasmoordenaars swaar gestraf

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die familie van die Nieuwoudt-egpaar, wat byna drie jaar gelede op hul kleinhoewe naby Hammanskraal aangeval is, vandeesweek in die hof ondersteun. Regter Papi Masopa het vandag swaar vonnisse vir die drie moordenaars opgelê.

Lawrence Refemate Makhubela (52), Cornelius Makatu (38) en Jacob Maponyane Seokola (48) is vroeër skuldig bevind op aanklagte van moord met voorbedagte rade op die 75-jarige Dries Nieuwoudt en poging tot moord op sy 71-jarige vrou, Mariaan. Hulle is ook skuldig bevind op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede. Makhubela is ook skuldig bevind op aanklagte van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.

Makhubela is lewenslank gevonnis vir moord, sewe jaar vir poging tot moord, 15 jaar vir roof, vyf jaar vir die besit van ’n onwettige vuurwapen en vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie.

Makatu en Seokola is beide lewenslank gevonnis vir moord, sewe jaar vir poging tot moord en 15 jaar vir roof.

Die moordenaars was uit op parool toe hulle hierdie misdade dae voor Kersfees in Desember 2020 gepleeg het.

“Ons is dankbaar vir die deeglike ondersoekwerk wat tot die vonnisoplegging gelei het, veral vir die plaaslike veiligheidstrukture wat paraat opgetree het ná die aanval. Alhoewel niks die leemte kan vul wat die verlies van ’n geliefde onder sulke omstandighede laat nie, hoop ons dat die Nieuwoudt-familie hul pad van genesing nou kan aanpak, wetende dat die drie moordenaars vir lank agter tralies gaan sit,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings